Gallery Update
STILBAAI NUUS - Die derde agtereenvolgende Krismis in Julie is van 9 tot 14 Julie suksesvol aangebied, met verskeie aktiwiteite wat deur die week vir vakansiegangers, inwoners en besoekers aangebied is.
Aktiwiteite wat aangebied is, het ingesluit daaglikse strandskoonmaaksessies, aangebied deur Stilbaai Coastal Clean-up; 'n wynproe-inligtingsessie vir Huis Stilbaai deur Stilbaai Kelders-wynboetiek; 'n pannekoek- en port-aand waar verskeie plaaslike en besoekende kunstenaars by die toerismeburo opgetree het; 'n gesellige optrede deur die Coffee Snobs van Mosselbaai by Stables Restaurant en selfs 'n elf-partytjie by Puffies wat die week afgesluit het.
Met besighede wat kleurryk versier was en met verskeie spesiale aanbiedings, was dit behoorlik krismis in Stilbaai en selfs in Jongensfontein.
Die aandmark in Voortrekkerstraat Vrydagaand was weer die hoogtepunt met vrolike Kersliggies in die strate, stalletjies wat kos en snuisterye verkoop het, heerlike musiek deur verskeie sangers en die plaaslike boereorkes. Krismisvader het die kinders met 'n trekker kom besoek en geskenkies saamgebring. Daar was selfs kunsmatige sneeu wat geval het en deur oud en jonk geniet is.
Die kinders het die hasies baie geniet. Foto: San-Marié Cronjé
En Santa se slee-span was op hul pos. Foto: San-Marié Cronjé
Die organiseerders, Adolf Botes en Johannie Vermeulen bedank almal wat daartoe bygedra het om van dié week 'n groot sukses te maak. Die datums vir volgende jaar se 'Christmas in July' sal weer in die winterskoolvakansie wees en mense kan nou reeds daarna uitsien en begin beplan.
Lees 'n vorige artikel: Dit is krismis in Julie
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'