HESSEQUA NUU - Kinders speel in die strate en parke en kuier bedags in groepies rond, want dis vakansie!
Dis somer, die dae is lekker warm en lank uitgerek. Almal is gewillig om by 'n plan in te val as dit opwindend klink.
Die jaar was lank, die eksamens uitputtend en uitmergelend vir die meeste. Die rapporte se slegte of goeie nuus is vir die meeste weer vergete, behalwe vir die matrikulante. Hulle wag is langer. Baie van hulle se senuwees knaag maar.
Vir die onderwysers is dit die droom wat waar gekom het; die einde van die jaar se vakansie, die vakansie waar jy nie hoef voor te berei of verstellings te maak vir die volgende kwartaal se werk nie. Hulle kry mos nie regtig vakansie deur die jaar nie. Hulle is by die huis, ja, maar hulle kry reg vir die kwartaal wat volg, want die uitslae het dit gewys en dat gewys , en nou moet daar so en moet daar sus ge-beplan word om almal op dieselfde spoed te kry voor die eind-eksamen, en voor die punte moet ingaan.
Maar hierdie een is hulle s'n. Die karavaantjie se wiele moet opgepomp word. Die tentpenne word gesoek en getel. Werk die gasstofie nog? Maak seker die gaslampe werk almal, want dis mos nou beurtkrag ook.
Vir die ouers is dit glad nie so opwindend nie. As die kinders nog in die laer klasse is, kan dit nog gaan, maar hier so van 12 af kan daar probleme kom.
Werkende ouers met kinders alleen by die huis, vrees wat by die huis deur die dag aangaan. Meeste ouers het betroubare ouer kinders wat sterk staan as die jonger kinders bietjie uit die hand uit raak. Meeste ouers los streng reëls by die huis en wil al die kinders by die huis hê wanneer hulle tuis kom. Dan moet verslag gedoen word.
Dis by huise waar sulke reëls nie bestaan nie, dat dinge maklik verkeerd loop.
In baie gemeenskappe is daar soveel dinge wat jong kinders op die verkeerde pad kan laat beland.
In skole het die kinders maats wat sekere goed elke dag sien en ervaar, wat vir hulle vreemd, maar opwindend lyk en klink. Vakansietye, alleen by die huis het hulle genoeg tyd om daar te gaan kuier en te ervaar wat hulle tot nog toe net van gehoor het.
Vakansietyd kan vir ouers 'n nagmerrietyd word as hulle nie elke liewe dag streng reëls neerlê nie. Die ouers wat nie werk nie en tuis is, het die verpligting om op te let wat in die strate aangaan, maar ook wat in en om die huise waar die ouers werk, aangaan. Dit help geweldig baie as die polisie se patrolliewaens gereeld in die strate gesien word. Hulle weet immers watter plekke om dop te hou; om te sien of kinders daar rondhang. Hulle is ook die mense wat 'n goeie insig het oor kinderwet-oortredings van enige aard.
Baie ouers sal mekaar waarsku oor uit- en oorslaap van meisiekinders by hulle vriendinne. As jy nie die mense baie goed ken nie, moenie dit toelaat nie, sal hulle dadelik waarsku. Dieselfde vir seuns. So is ouers bedag op oor-en-weer kuiery, al is dit in hul eie huise, agter toe deure. Dit bly deesdae baie moeilik om kinders op die regte pad te hou, maar dit kan gedoen word.
Gaan gesels gerus met ander mense oor hoe hulle te werk gaan om hulle kinders naby hulle te hou - en vakansietye sal tye word wat deur almal in die huis geniet word – soos dit hoort.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'