Gallery Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die Heidel-seniorburgerklub het Donderdag 23 Mei hul jaarvergadering gehou waar verslag oor klubbedrywighede en finansies gelewer is.
Merle Paige het die verrigtinge gelei en die voorsittersverslag gelewer, wat al die bedrywighede van die jaar vanaf April 2018 tot Mei 2019 insluit. Elke tweede jaar word nuwe bestuurslede verkies.
Die Heidel-bejaardes is baie bedrywig en woon al die sportaktiwiteite vir bejaardes in die Hessequa-streek by. Hulle win hul eie geld in deur maandeliks ledegeld te betaal en bedryf stalletjies waar die geleentheid hom voordoen. Hulle is besig met brei-, hekel-, mosaïek- en naaldwerk. Die klein venue waar hulle bymekaar kom, bly egter 'n groot kopseer, want vir kralewerk het elkeen 'n eie spasie nodig.
Van die voltooide stukke word verkoop, terwyl ander aan behoeftiges uitgedeel word. Mense en instansies wat vanjaar hierby baat gevind het, sluit in die brandslagoffers van Wuppertal, behoeftiges in Heidelberg, asook die brandweermanne van die munisipaliteit. Maar die bejaardes word ook soms deur die gesondheidswerkers in die gemeenskap met 'n pedikuur en 'n manikuur verras.
'n Hoogtepunt van die jaar is die opedag wat 'n uitstalling van hul werk ingesluit en wat oor twee dae gestrek het. Vir die komende jaar word 'n nuwe hoogtepunt beplan, naamlik 'n debutante-bal, waaroor groot opgewondenheid heers.
Die klub, wat nie befondsing van die staat ontvang nie, het die individue en instansies wat hulle so getrou bystaan, hartlik bedank.
Kyk 'n video hieronder:
Van die bejaardes wat die vergadering bygewoon het. Foto: Alex Marshall, korrespondent
Lees 'n vorige artikel hier: Bejaardes doen nog hul ding
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'