Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Spanpoging soos lanklaas hier gesien is, het hom verlede Saterdag in Kwanokuthula afgespeel toe 'n blou golf, Riversdal Blues-rugbyklub, die woonbuurt binnegevaar het.
Bestuurslede, rugbyspelers en onder-steuners, baie in die blou kleure van Blues getooi, het na Becca's Soup Kitchen opgeruk met groot potte sop en gesmeerde toebroodjies, netjies in papiersakkies.
Riversdal Spar het 'n klomp varsgebakte brood geskenk, nie hul eerste groot skenking aan dié sopkombuis nie.
Sowat 'n maand gelede het Spar twee volgepropte winkeltrollies met kos gestuur. Nie al die kos kon in die twee groot trollies inpas nie.
Buite het reeds 'n tou jong kinders en 'n paar bejaardes geduldig gewag. Hoewel dit koud en bewolk was, was daar 'n groot opgewondenheid in die lug en het die talle kwinkslae die mense met warm glimlagte naby die sopkombuis laat rondstaan.
Pieter Herling, voorsitter van Riversdal Blues, het aan die omstanders en ondersteuners gesê die skenking is deel van die klub se uitreikaksie na die gemeenskap. "Ons ondersteuning kom van dié mense en dis net reg dat ons op ons beurt vir hulle iets teruggee. En watter beter manier as om te skenk aan mense wat behoeftig is en feitlik niks het nie.
"Ons het juis besluit om ons fokus van die rugbyveld te verskuif na die gemeenskap om uit te reik en te wys die klub het 'n warm hart en dat hy vir mense omgee. Ons is nou in die rol van ondersteuners."
Lede en ondersteuners van Riversdal Blues gereed om warm sop uit te deel.
Herling het aan Suid-Kaap Forum vertel Riversdal Blues se bestuurslede sou aanvanklik net onder hulle lede kos bymekaar gemaak het om te gaan uitdeel, maar die nuus van dit wat hulle beplan het soos 'n veldbrand versprei en lede en ondersteuners aangespoor om ook hul deel by te dra. Op die ou einde het die klub genoeg sop en brood onder mekaar ingesamel om nagenoeg 300 mense te voed.
"As dit nie 'n groot spanpoging is nie, dan weet ek nie. Ons is oorweldig deur die goedhartigheid van die Blues-familie.
"Ons het dié seisoen nog nie aan ons ondersteuners se verwagtinge voldoen nie, maar soos wat julle ons al heel seisoen ondersteun, gaan ons ons allerbeste gee om julle nie teleur te stel nie. Saam kan ons 'n verskil maak; op en van die rugbyveld af."
Groot dankbaarheid op die kinders se gesigte oor die eetgoed wat hulle gekry het.
Niks verdryf die winterkoue soos 'n beker warm sop en 'n vars toebroodjie nie. Foto's: Hugo Redelinghuys
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’