ALBERTINIA NUUS - Die jeug en ander gemeenskapslede van Albertinia het 'n vreedsame optog vanaf die gemeenskapsaal in Theronsville tot by die hofgebou gehou om te vra vir sterker optredes teen mishandeling en uitbuiting van kinders.
Die plaaslike SAPD, Hessequa wetstoepassing, nooddienste en rolspelers vanuit die gemeenskap het saamgestap om memorandums aan die polisie en justisie te oorhandig.
By die hofgebou het kaptein Karel Barnard, stasiebevelvoerder van Albertinia SAPD, en mevrou Curtis Engel, kantoorhoof van die departement van justisie in Albertinia, die memorandums in ontvangs geneem en onderneem om werk te maak daarvan.
Vir die polisie het die jeug onder andere gevra vir verskerpte patrollies rondom skole en hoërisiko-areas en dat sake rakende geweld teen kinders en jong vroue geprioritiseer word.
Vir justisie het hulle onder andere gevra vir die oprigting van 'n slagoffer hulp- en skakelpunt by die hof asook die hersiening van verwaarloosde of afgekeurde sake.
Die jeug sê dat geregtigheid wat vertraag word, is geregtigheid wat geweier word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’