STILBAAI NUUS - Die plaaslike polisie het op Dinsdag 4 Februarie die ernstige gevolge van 'n lewe met dwelms aan leerders tuisgebring.
Tydens 'n uitreik by Melkhoutfontein Primêre skool het 'n oudgevangene sy lewensverhaal met die leerders gedeel en verduidelik hoe verkeerde keuses, dwelm- en drankmisbruik sy lewe vernietig het. Hy het verder vertel hoe die tronk sy lewe en drome vernietig het.
Die projek wat in samewerking met die Gemeenskapspolisiëringsforum, departement Korrektiewe Dienste en privaat instansies aangebied is, het gepoog om leerders te laat insien watter gevolge hul lewenskeuses op hulself en almal om hulle kan hê.
Kapt. Johan van Tonder (bevelvoerder) rig 'n ernstige versoek aan ouers om met die polisie en die skole hande te vat om te sorg dat kinders skool toe gaan en om by hul kinders se aktiwiteite betrokke te wees: "So sal ons kan voorkom dat ons kinders die skool voortydig verlaat en in misdaad betrokke raak."
Hy bedank almal wat tot die sukses van die projek bygedra het.
Deelnemers en leerders tydens die uitreik na Melkhoutfontein Primêre skool.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'