Update
ALBERTINIA NUUS - Die kans vir 'n baba se oorlewing wat ses weke te vroeg gebore word, is letterlik twee uit 10. Ian Oosthuizen, matriekleerder van Hoërskool Albertinia, was een van die twee en sy lewensverhaal tot dusver spreek van geloof, hoop en liefde.
Ian was vir bykans 'n week aan longmasjiene gekoppel. Op vier jaar het hy 'n konvulsie gehad en is vir breinskade gevrees. Sy ouers, Inus en Marietjie, moes baie negatiewe kommentaar oorkom, soos dat die konvulsie 'n voorloper van epilepsie is.
"Ek het vir almal gesê hy makeer niks, dat hy net 'n 'kortsluiting' gehad het omdat hy te veel planne maak. Daar was nooit 'n herhaling van enige aard nie," vertel Inus.
Deur sy skoolloopbaan het Ian hard gewerk en elke taak is met 'detail versier'. Hy het maklik 'n gholfkompetisie afgewys omdat hy moes leer of 'n taak moes voltooi.
"Hy was altyd so trots om te sê hy is in Hoërskool Albertinia as hy daaroor uitgevra is."
En sy matriekuitslae het die kroon tot dusver op sy harde werk en toewyding gespan - 'n bewys dat waar 'n wil is, is 'n weg.
Ian se toekennings
• Diploma - wiskunde, Engels, Afrikaans, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, rekeningkunde en besigheidstudies;
• Aloe Motors-prys vir toppresteerder in gr. 12 met hoogste gemiddelde punt vir Afrikaans, wiskunde en fisiese wetenskappe bo 70%;
• Klasprestasie toppresteerder in gr. 12.
• Trofee vir Afrikaans senior redenaar. • Trofee: Gr. 12-leerder - volharding en deursettingsvermoë.
• FAK Internasionale Ekspo: Poësie, koerantberigte en opstelle: sertifikate - 15 brons; 12 goud - een van die gedigte waarvoor hy goud gekry het is aangewys as beste gedig vir 'n gr. 12-leerder.
• 2017 Ratem Eisteddfod: Sertifikate, 1 brons vir skryfwerk, 2 silwer vir skryfwerk en 2 goud vir skryf en kuns - slaag Taalbondeksamen - behaal brons vir inskrywing by 'The Queens Common Wealth Essay Competition Cambridge University Press'.
• Deelname aan verbruikerstudie-olimpiade en eindig onder toptien in kategorie waarna hy skool by Universiteit Vrystaat verteenwoordig. Hy deel 'n R15 000 studiebeurs geborg deur Albertinia Ball Clay Mine met Keaton Jantjies en Amy Michiel.
• Aangewys as Dux-leerder 2017.
Ian is ook ingeskryf as Admaths student.
Bo en behalwe die rekordeksamen het hy op 18 Oktober ook die IEB AP Maths Eksamen (Independent Exam Board - Advanced Programme Mathematics/Onafhanklike Eksamenraad - gevorderde program wiskunde) wat op NQF 5-vlak is, gelykstaande aan 'n eerste jaar op universiteit.
Hy is by NWU Potchefstroom ingeskryf om 2018 bedryfswiskunde en informatika te studeer, met finansiële wiskunde as hoofrigting.
Ons beur kruin toe
En dié skrander leerder se persoonlike leuse is: "Hoe meer jy jou beste doen, hoe beter word jou beste'.
"Met hierdie siening het hy behoorlik 'kruin toe gebeur' om gestalte aan sy skool se leuse te gee, naamlik "Ons beur kruin toe!"
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'