RIVERSDAL NUUS - Met die skielike heengaan van die legendariese fluitjieblaser, oom Max Baise (93), het nie net Riversdal nie, maar die hele land een van sy groot rugby-ikone verloor.
’n Lewensherdenking vir oom Max is vandag, 11 November, by die NG Kerk Wes se Muur van Herinneringe gehou, waarna gaste hulde gebring het by De Doornkraal Vinotel.
Oom Max, ’n voormalige Springbok-skeidsregter en suksesvolle sakeman, het op 11 Oktober sy laaste fluitjie geblaas. Huldeblyke stroom steeds in vir hierdie merkwaardige man wat van 1963 tot 1976 as een van Suid-Afrika se beste skeidsregters gedien het.
Sy liefde vir rugby het reeds op skool begin, en sy loopbaan as skeidsregter het toevallig ontstaan toe hy eendag in ’n kroeg hoor van die Skeidsregtersvereniging en besluit om aan te sluit - vir die skamele bedrag van vyf sjielings.
Op 25 Augustus 1956 het hy sy sertifikaat ontvang en kon hy amptelik die fluitjie blaas - iets wat later sy lewensroeping sou word.
Riversdal en die rugbygemeenskap onthou hom as ’n ware gentleman, sportman en mentor wat sy slagspreuk - “’n Skeidsregter is die man in die middel, nie die man in die kollig nie” - tot die einde eer aangedoen het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’