STILBAAI NUUS - Flinke optrede deur lede verbonde aan die SAPD Stilbaai lei tot spoedige arrestasie van inbreker.
Adjudant-Offisier Morné D'Emiljo, bevelvoerder van sigbare polisiëring by die Stilbaai SAPD, sê dat hulle Woensdagoggend, 17 Desember, bewus geraak het van 'n inbraak by 'n karavaan in die Ellensrust Karavaanpark.
Adjudant-Offisier Schnetler, wat ten tyde van die aanmelding ook in die dienssentrum was, het die inligting dadelik opgevolg. Minder as 'n uur later is die verdagte gearresteer en al die gesteelde eiendom teruggevind. Met verdere ondersoek is die verdagte ook met 'n tweede inbraak verbind en het op 19 Desember sy eerste hofverskyning in die Riversdal-landdroshof gehad. Die verdagte bly in aanhouding.
Adjudant-Offisier Schnetler, sersant Erasmus en lede van die misdaadvoorkomingsgroep in Stilbaai word opreg bedank vir hul spoedige optrede en uitmuntende diens aan die gemeenskap.
Vakansiegangers word gemaan om nie waardevolle items rond te laat lê nie, aangesien 'n groot konsentrasie vakansiegangers as maklike teikens beskou word. Sluit ook jou motor as jy dit nie gaan gebruik nie.
Meld diefstal so spoedig moontlik aan, want die Stilbaai SAPD sal alles in hulle vermoë doen om jou gesteelde items terug te vind en oortreders agter tralies te kry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’