STILBAAI NUUS - 'n Besluit oor voorstelle, wat ongeveer 'n jaar gelede tydens 'n openbare vergadering oor ontwikkeling op Julie-se-Baai ingedien is, is nog nie geneem nie.
Anton Pieterse het 'n bootwinkel, bootdiensplek, onderdakstoorgeriewe en 'n museum met die geskiedenis van vissermanne voorgestel, terwyl Jan Heenop 'n konferensie- en opvoedkundige fasiliteit, asook 'n glamping-gedeelte voorgestel het.
Die gemeenskap het geleentheid gehad om vrae te stel tydens die vergadering en kon ook skriftelike vrae of besware by Hessequa-munisipaliteit indien. Volgens die munisipaliteit is terugvoer van die ontwikkelingskomitee ontvang en is die item aan die wykskomitees van wyke 1 en 3 gedurende Junie vanjaar voorgelê.
"Een van die wykskomitees het ongelukkig nie 'n kworum gehad nie, wat beteken dat die item na die volgende wykskomiteevergadering moet oorstaan," het Didi Budricks, hoof van openbare betrekkinge, administrasie en hulpdienste gesê.
"Aangesien die raad gedurende Julie in reses was, is die volgende wykskomitee vergadering vir 30 Augustus geskeduleer en sal die item dan dien, waarna dit in September aan die portefeuljekomitee en uitvoerende burgemeesterskomitee vir finale oorweging voorgelê sal word."
Julie-se-Baai is reg voor Stilbaai se ingang aan die linkerkant en 'n besluit oor enige ontwikkeling hier kan 'n geweldige positiewe - óf negatiewe - impak hê, dus is dit duidelik dat die munisipaliteit geen oorhaastige besluit rakende dié kwessie gaan neem nie.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'