Gallery Update Video
STILBAAI NUUS & VIDEO Anita Peens laat nie toe dat haar fisiese gebrek haar terug hou nie.
Sy is onlangs as een van 25 finaliste vir Miss Teen Commonwealth South Africa gekies.
Peens was sewe jaar oud toe haar arm tydens 'n busongeluk vergruis is. Haar lewe het drasties op 6 Augustus 2008 verander nadat haar arm net onder haar skouer afgesit moes word. Ten spyte hiervan doen sy modelwerk en neem aan skoonheidskompetisies deel. Debbie van der Putten is haar rolmodel en inspireer haar om nie moed op te gee of minder van haarself te dink nie.
Omdat sy in Johannesburg vir die eerste werksessie en onderhoude moes wees, het sy en haar ouers deur middel van sosiale media geld ingesamel sodat sy dit kon bywoon. Tydens haar onderhoud het een van die beoordelaars gesê dat dit die eerste keer in vyf jaar van die kompetisie se bestaan is, dat iemand met 'n fisiese gestremdheid inskryf.
Sy vertel: "Die aanbieders het vir ons verduidelik hoe alles werk en wat van jou verwag sal word indien jy as finalis gekies is. Ek is baie opgewonde en vir die eerste keer voel dit vir my of my droom begin waar word."
Een van haar eerste projekte is om geld vir 'n liefdadigheidsorganisasie in te samel. Sy moet R7 000 bymekaarmaak en minstens R1 500 elke maand vir die organisasie gee tot en met die R7 000 doelwit bereik is.
Small Dreams Special Needs Educational Centre is haar keuse van liefdadigheid.
"Ek het Small Dreams gekies omdat ek met hulle kan vereenselwig. Dit sal vir my wonderlik wees om hulle te kan help. Ek besoek gereeld die skool om saam met hulle te speel," het Peens gesê.
Voor sy nog die nuus ontvang het dat sy wel 'n finalis is, het sy genoem dat sy steeds vir dié organisasie geld en ander benodighede sal insamel.
Haar ma, Olga Peens het gesê: "Dit is my kind se droom en ek sal nie in haar pad staan nie. Ek sal alles doen om haar te help om haar doelwitte te bereik. Wanneer iets wat sy aanpak nie uitwerk nie, weet ek ten minste sy het probeer. Ons hele gesin ondersteun haar."
Lesers kan haar ondersteun deur haar Facebook-blad: Anita Peens Miss Commonwealth SA 2019 Finalist te like en te deel. Stemlyne sal moontlik eers einde Maart oop maak. Hulle bedank almal wat op verskillende maniere 'n bydrae gemaak het.
Indien jy kan help om 'n bydrae vir Small Dreams of Anita te maak, skakel Olga by 074 634 9547.
Small Dreams Big Achievements
Small Dreams Special Needs Educational Daycare Centre
NPO registrasie: 199-091 NPO
Adres: Nico Joubert Perseel
Oosthuizenstraat 15
Riversdal
Webtuiste: www.small-dreams.co.za
Wenslys
• Finansiële bydrae (eenmalig)
• Borg ’n kind (maandeliks)
• Konstruksie:
- Vervang een klein toilet met ’n groter vir ouer leerders
- Opgradering van speelgebied
• Tablets vir leerders
• Springkasteel of trampoline met veiligheidsnet
• Yskas
• Wasmasjien
• Waslappies
• Ekstra klere: broeke, onderbroeke, panties ens.
• Enige kombuistoerusting en gereedskap soos klitsers, potte, maatbekers ens.
• Eetgerei vir leerders verkieslik plastiek
• Naalwerk toerusting
• Banke vir ouer leerders
• Sand vir sandput
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'