HEIDELBERG NUUS - Die SWD o.18-rugbyspan het tydens die onlangse Cravenweek, wat van 3 tot 9 Julie by Hoër Seunskool Rondebosch aangebied is, stewig vertoon.
Voor hul vertrek na Kaapstad het die spelers by Hoër Landbouskool Oakdale vir 'n oefenkamp bymekaargekom. Hulle het tydens die Cravenweek by die Graca Machel-koshuis by die Universiteit van Kaapstad tuisgegaan.
Die SWD het in hul drie wedstryde gemengde welslae behaal.
Met hul eerste wedstryd teen Vrystaat het hulle met 29 - 19 geseëvier nadat Vrystaat teen rustyd met 14 - 11 voorgeloop het.
SWD het in die tweede helfte beheer geneem oor die wedstryd en sy voorspelers het gedomineer. Driedrukkers vir SWD was Jamil Pretorius, Antonio Bruiners en Keith Syster.
Die Blou Bulle het die tweede kragmeting met 34 - 15 beklink. Dié wedstryd is in nat weer gespeel en die voorspelers kon gevolglik nie oorheers nie. Hulle het ook gesukkel in die lynstane en is baie by die afbreekpunte gepenaliseer.
Driedrukkers vir SWD was Micheal Lamont en Werner Groenewald.
Die Sharks het die derde wedstryd met 20 - 13 gewen.
Hier het die SWD talle kanse verbrou om die wedstryd te wen. Die driedrukkers vir SWD was Ramon Uys en Camden Schoeman.
Ná afloop van die Cravenweek is vyf spelers in die SA Skole en SA Skole A-spanne opgeneem.
Hulle is as volg
- SA Skole: Ruan Swart
- SA Skole A: Camden Schoeman (kaptein), JT Strydom, Antonio Bruiners en Dewald Gerber.
Volgens Luando Stevens, spanbestuurder, was dit 'n groot geleentheid vir die seuns en is hulle baie trots op hierdie prestasie.
Stevens sê dat hulle as bestuur die volgende rolspelers bedank: SWDRU, SWD Hoërskolerugby, die prinsipale van die betrokke skole, borge, asook die ouers van die spelers.
Die groep spelers wat die SWD Cravenweekspan gehaal het, het die hele Suid-Kaap trots gemaak met hul vertonings tydens die pas afgelope Cravenweek in Kaapstad. Hier pronk hulle saam met Luando Stevens, spanbestuurder, voor in die middel.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'