Die doel van die belasting wat op suikerdrankies gehef sal word, is om openbare gesondheid en maatskaplike welstand te bevorder. Die regering hoop om landsburgers so te ontmoedig om hul suikerinname in toom te hou deur versoete suikerdrankies te belas met 2.29c vir elke gram suiker per liter.
Dit geld nie vir vrugtesappe waarin natuurlike suiker voorkom nie en ook nie vir onversoete melk en melkprodukte nie. Die aankondiging is deur Pravin Gordhan (minister: Finansies) in Februarie gemaak dat dié belasting vanaf 1 April 2017 in werking sal tree.
Sedertdien het dit 'n wye verskeidenheid van debatte ontketen vir en daarteen. Volgens berigte heers kommer in die botteleringsbedryf dat daar moontlik 60 000 werksverliese kan wees weens die taks. Navorsers is egter van mening dat die skatting nie korrek is nie, aangesien meeste sagte koeldrankvervaardigers ook suikervryedrankies vervaardig.
Suid-Kaap Forum het 'n meningsopname gedoen en is die vraag gevra: Hoe voel jy oor die beoogde suikerbelasting wat in 2017 in werking gaan tree?