RIVERSDAL NUUS - Die St. Andrews Anglikaanse kerk vier Vrydag 17 November hul 100 jarige herdenking.
Die gemeente is van die St. Matthews kerk afgestig, opgerig in 1856 nadat die huidige kerkgebou nie die groeiende gemeente kon huisves nie.
Die eerste kerkdiens vind in die sendingskool plaas.
Die grond vir die oprigting van die skool is geskenk deur Joseph Barry, ter nagedagtenis van sy oorlede eggenote.
Die eerste twee kerkvoogde was John Smith, algemene handelaar en Philander Beukes, skoenmaker en later sakeman.
Wakefield (junior) sterf aan die groot griep op 28 Oktober 1918 na 'n kort siekbed van ses dae nadat hy die virus opgedoen het tydens sy besoeke aan siek gemeentelede.
'n Pragtige soliede koper gedenkplaat in die kerk herdenk sy lewe.
Die tweede leraar was eerw. Reginald Earp-Jones vanaf 1919-1921.
Die koms van eerw. Martin Johnson, vanaf 1921-1950 bring radikale verandering in die groeiende gemeente. Eiendom word geïdentifiseer en grond aangekoop.
Op 23 Julie 1924 vind die hoeksteenlegging plaas deur biskop Henry B Sidwell, bygestaan deur eerwaardes GW Anderson, G Parnell, W Burns (Heidelberg) en Martin Johnson.
Danksy die werkywer van Johnson word die kerkgebou voltooi en verskeie sendingskole word in die distrik opgerig.
Kruisrivier Primêre skool (1929) is een van die eerste skole wat opgerig word op eiendom wat die kerk aangekoop het.
Die huidige kerkgebou is op 29 November 1947 deur biskop Herbert Gwyer ingeseën nadat al die bouskuld, danksy die jaarlikse basaar betaal is.
Johnson dien op die munisipale raad, hospitaalraad, asook skoleraad.
Hy sterf aan 'n hartaanval in 1950, maar sy droom om 'n pragtige kerkgebou sonder enige skuld agter te laat word bewaarheid.
Eer aan 'n pionier.
Die gemeente huldig sy nalatenskap deur 'n kerksaal op te rig, die Martin Johnson Memorial Hall, voltooi in 1952.
Die Riversdal-munisipaliteit vernoem 'n straat in Progress Estate na die Martin Johnsonstraat.
Vanaf 1950-1960 dien eerw. F G Child die gemeente.
Die werk was te veel en eerw. Noel Francis en eerw. Moffat het hom bygestaan.
Daar word melding gemaak van verskeie ander leraars in die gemeente. Maar met die koms van eerw. N A E Kow vanaf 1970-1980, bygestaan deur eerw. Bismarck F. Drude (oudskoolhoof) vanaf 1977-1984, is daar 'n dramatiese groei in gemeentelede, asook die uitbreiding van buitestasies en skole.
Die huidige leraar is eerw. Arthur Allister Stephens, bygestaan deur eerw. Johan Fielies en eerw. Noel Weber.
Twee van die gemeentekinders bekwaam hul as predikers, naamlik biskop Justice Marcus, oorlede in 2003 en eerw. Marioh Marcus, oorlede in 2016.
Die gemeente vier die historiese gebeurtenis met 'n debutantebal in die burgersentrum en 'n dankseggingsdiens op Sondag 19 November.
ARTIKEL & FOTO: KEITH EKSTEEN, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'