STILBAAI NUUS - Die Soetfontein Senior Klub van Melkhoutfontein het Vrydag 28 April hulle snoek- en patatfees by die Soeterus-saal in Melkhoutfontein gehou.
Dit was hulle eerste fondsinsameling vir die jaar en die klub het hul doelwit bereik. Die geld wat ingesamel is gaan aangewend word om die seniors op hulle jaarlikse uitstappie te neem asook om projekte in die gemeenskap van stapel te stuur. Hulle wil ook ander seniors in Melkhoutfontein, wat nog nie lede is nie, bereik.
Daar was talle stalletjies en heerlike geregte soos die tradisionele ingelegde kerrievis, tuisgebakte koeke, tuisgemaakte gemmerbier en soetkoekies is verkoop.
Stilbaai Groentemark was ook betrokke en die Soetfonteiners is opreg dankbaar teenoor Marietjie en haar span.
Die dag sou egter nie suksesvol gewees het sonder die ruim skenking van Stilbaai Spar nie en dan het Dirk Smit ook al die hout vir die braai van die snoek en roosterkoeke geskenk.
Albert Cloete, voorsitter van Soetfontein Senior Klub, besig om snoek te braai.
Albert Cloete, voorsitter van Soetfontein Senior Klub, het ook sy dank uitgespreek aan die breë gemeenskap vir hul ondersteuning met die kaartjie verkope.
Dan was daar die drie seniors wat geswoeg het om meer as 300 roosterkoeke te bak. Ook die snoekbraaiers en patatbakkers wat die warm son en vure moes trotseer en daarvoor is hy innig dankbaar.
Vir diegene wat teleurgesteld moes omdraai omdat al die snoek en patats uitverkoop was, het Albert gesê met die volgende fondsinsameling moet hulle seker maak hulle koop vooraf hulle kaartjies.
Die Soetfontein Senior Klub se doelwit is om alle bejaardes vir solank moontlik aktief in die samelewing betrokke te hou en die voorsitter nooi dus alle bejaardes wat alleen by die huis sit om betrokke te raak.
Van die heerlike tuisgebakte koeke by die snoek- en patatfees.
Soetfontein Senior Klub se snoek- en patatfees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’