RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike skoukomitee het Woensdag 26 Februarie 'n tjek van R17 000 aan Goukam Health oorhandig.
Die geld is tydens die gesamentlike erediens waarmee die skou die vorige Sondag afgesluit is, ingesamel.
Die kantoorhoof van die organisasie, Ilse Olivier, sê dis vir hulle soveel soos miljoene werd:
"Ons werk met die heel armste mense en party het nie eens skoon klere wanneer hulle opgeneem word nie. Dié geld gaan 'n groot verskil in ons begroting maak."
Ds. Deon Beyers van die NG Kerk Riversdal-Wes vertel dis die tweede jaar wat die skou met 'n gesamentlike diens afgesluit word, na die komitee in 2019 die eerste keer die dorp se geestelike leiersforum genader het met die idee. Hierdie jaar se diens is deur Andries Vermeulen wat beter bekend as TV-storieverteller is, gelei en ongeveer 600 mense het dit bygewoon. Die gemeentes van Riversdal-Wes, NG Moederkerk, AGS-Riversdal en die Leef-gemeente het die ingesamelde geld bymekaar gegooi en besluit om dit hierdie jaar aan een van die kleiner organisasies in die dorp te skenk.
Vorige artikel: Groot skou-tjek vir Goukam Health
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'