STILBAAI NUUS - Die visie van die plaaslike polisie en die Youth Crime Prevention Desk (YCPD) op Stilbaai is om 'n standpunt teen misdaad in te neem.
Deel van hul aanslag is om saam met die gemeenskap, rolspelers en skole bewusmaking te kweek.
'n Vredesbyeenkoms is Saterdag 23 Februarie op Melkhoutfontein gehou waar leerders en lede van die gemeenskap die boodskap van vrede uitgedra het.
Jonathan Kleinhans, voorsitter van die YCPD, het die gemeenskap toegespreek waarop vader Johan Fielies saam met die groep deur Melkhoutfontein beweeg het as bewusmaking teen dwelm- en drankmisbruik.
Sers. Chrisy Lewaks, konstabels Johannes Pietersen en Christiaan Zwiegelaar het Melkhoutfontein Primêre skool op 4 Maart besoek. Hulle het die leerders toegespreek en gewaarsku teen die gevare van dwelmmisbruik.
Zwiegelaar het onder andere vir die leerders gesê dat indien hulle deur 'n moeilike tyd gaan of in moeilike omstandighede by die huis leef, hulle nie na dwelms vir uitkoms moet draai nie.
"Praat liewer met 'n onderwyser, lid van die polisie of iemand wat jy vertrou, maar onthou net dat dwelms nie die uitweg is nie. Dwelms vererger dit."
Indien enige persoon of organisasie aan die bewusmakingsprogramme wil deelneem, kan hulle Chrisy Lewaks tydens kantoorure by 028 754 6100 skakel.
Konstabels Christiaan Zwiegelaar, Johannes Pietersen en sers. Chrisy Lewaks tydens die bewusmakingsprogram by Melhoutfontein Primêre skool.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'