Gallery
RIVERSDAL NUUS - ‘n Bekende Riversdaller, Tielman Roos, was vanaf 19 November tot 30 Desember vir 42 dae op ‘n onvergeetlike seilvaart na Antarktika.
Nie net het hy sy droom verwesenlik deur op die 111-jaar oue seilskip Bark Europa te vaar nie, maar hy het ook teruggegaan op die spore van sy gunsteling ontdekkingsreisigers.
Van laerskooldae af was Tielman geboei deur stories van die ou ontdekkingsreisigers met hulle seilvaarte. Hy het ook in gr. 6 begin seil saam met die Voortrekkers en gaande geraak oor dié sport wat hy sy lewe lank beoefen.
Hy het lankal daaraan gedink om dalk eendag Antarktika toe te gaan, maar dit was onbekostigbaar. En toe kom hy op die ou seilskip af, ‘n Nederlandse opleidingskip waar jy inskryf op ‘n vaart. Hulle stel dit baie duidelik van die begin af “we don’t take passengers: every one is working crew; jy is ‘n matroos in opleiding op hierdie skip.
Met hierdie vaart is die kostes baie minder as op ‘n passasierskip, omdat niks luuks is nie en seker omdat die wind hom aandryf! Daar was vyf mense in ‘n kajuit van so 3 m x 2,5 m saam met hom.
‘n Paar vereistes is daar wel, maar om te kan seil is nie een daarvan nie, alhoewel daar gevra word na jou seilervaring. ‘n Gesondheidsvraelys moet voltooi word sodat hulle weet of jy fisiek in staat sal wees om deel te wees van die werkende bemanning op die skip.
“As jy inskryf kry jy reeds inligting vir voorafopleiding. Jy moet die skip en seile goed leer ken en weet watter seil is waar, elkeen het ‘n klomp toue so dis ‘n netwerk van seile en toue wat jy bymekaar moet bring. Ek seil al my lewe lank, maar dit is die eerste keer in my lewe wat ek op ‘n “Square Rigger” was. Dis die outydse skepe met die vierkantige seile, waar die moderne seiljagte van vandag se seile meestal driehoekig is. Die Europa is ‘n driemaste skip met 32 seile wat vir my ‘n totale nuwe uitdaging was,” sê Tielman.
Die Bark Europa is 56 m lank en 7,5 m breed. Die hoofmas is 33 m hoog en sy diepgang is 3,9 m. Die seile het elkeen ‘n naam wat voor die tyd geleer moet word en elke seil het 6 tot 8 toue, plus minus 250 toue in totaal.
Die totale lengte van die toue op die skip is ongeveer 5,5 kilometer!
Wanneer die matrose aan boord gaan, word hulle opgedeel in drie wagte: rooi, wit en blou, die kleure van die Nederlandse vlag. Hulle werk vier ure aan diens of wagbeurt en agt ure af.
In die vier ure wat jy aan diens is, maak almal beurte om die skip te stuur, op uitkyk te wees (veral vir ysberge) en om seile te verander. Die agt ure wat hulle af was, moes hul eet, slaap en elke dag was daar ook, indien die weer dit toegelaat het, lesings oor die interessantste goed wat op die vaart teëgekom sou word.
Volgens Tielman was daar drie gidse, twee Spanjaarde en een Noorweër, op die skip wat puik aanbiedings gegee het. Hulle is topmense met doktorsgrade oor oseanografie, gletsers, ysberge, klimaat van Antarktika, die walvisse, pikkewyne en vele meer.
Die betrokke vaart het begin by Puerto Madryn ‘n hawedorp aan die ooskus van Suid-Amerika. Hulle het aan boord gegaan, opleiding gekry en die volgende dag geseil, waar hulle aan die diep kant ingegooi is, maar darem saam met 14 ervare permanente bemanningslede wat hul storie ken.
Suid-Georgië
Die eerste skof was vir ongeveer 10 dae, suid-ooswaarts tot by die Antarktiese eiland, Suid Georgië, wat vernoem is na Koning George die derde. Op pad na Suid-Georgië is daar ’n klomp lesings aangebied oor die geskiedenis van hierdie eiland wat volgens Tielman ‘n ongelooflike mooi eiland is met natuurskoon soos hy in sy lewe nog nooit gesien het nie.
Hulle het in die nag by Suid-Georgië aangekom en sou in ‘n baai gaan anker gooi, maar as gevolg van die stormagtigheid van die see het hulle eers die volgende oggend in ‘n verdere baai ingeseil en anker gegooi.
Daar is geen permanente inwoners op die eiland nie as gevolg van die uiters koue winters. Somermaande kan mense daar bly en in die wintermaande, vanaf April, onttrek almal want dan is alles toe onder sneeu en ys. Hulle het ‘n week hier spandeer en stadig kuslangs omgevaar en elke dag op ‘n ander plek anker gegooi waar hulle aan wal gegaan, gestap en gekyk het.
“Dit was ‘n ongelooflike ervaring, as jy daar afklim voel dit asof jy is ‘n paar 100 jaar terug in tyd is,” vertel Tielman.
Volgens hom is daar geen tekens van besoedeling nie, dis ‘n paradys met duisende pikkewyne. In 1775 is die eiland ontdek en daarna is die robbe gejag en uitgeroei tot daar amper niks oor was nie.
Einde 1800’s het hulle begin walvisse jag tot daar feitlik niks oor was nie. Al die jagtery is gelukkig gestaak en word streng bewaring nou toegepas.
Daar is nou weer walvisse en duisende pikkewyne, die seelewe het wonderlik herstel. Alhoewel dit ‘n hele paar jaar geneem het, wys dit tog dat dit moontlik is. Mens kan nog die ou walvisstasies se oorblyfsels sien. Dis nou murasies, maar is interessant om daarna te gaan kyk.
Die skilderagtige prentjie wat jy kry van Suid-Georgië in die somer is die blou see, gewoonlik stormagtig, maar blou. Party plekke is daar geen kusvlakte nie en party plekke wel so ‘n groen streep al langs die kus en dan die berge wat net hoër en hoër gaan.
Hy vertel met oorgawe van die eiland wat so 170 km lank en tot 40 km breed is met berge op berge wat ongelooflik was. Die pieke is amper 3 000 m hoog wat nie vir meeste mense veel sê nie, maar as jy ‘n vergelyking maak, is dit soos wanneer jy by die Kaapse Waterfront staan en na Tafelberg kyk. Jy kan drie daarvan op mekaar sit en alles vol sneeu en ys maak. Dis soos die Alpe, maar troon reg uit die see uit op.
“Ek het baie uitgesien na Suid-Georgië vir die geskiedenis daarvan. Dit was in die tyd van die ontdekkingsreisigers die poort na die suidsee en dit was een van die redes hoekom ek dit graag wou doen, maar ek het die natuurskoon totaal onderskat en nie verwag dit gaan so mooi wees nie. As jy afklim en jy gaan aan wal, is daar pikkewyne sover as wat jy kyk. Hulle het geen vrees vir mense nie. Dit was ‘n belewenis om te sien en ervaar,” vertel hy.
Daar is ‘n groot verskeidenheid pikkewyne, derduisende is oral sigbaar. Volgens die kenners is daar ‘n broeikolonie van ongeveer 150 00 pare in een van die baaie getel. Die kuikens is bruin en hulle is gewoonlik in groepies bymekaar.
Shackleton-staproete
Vir die avontuurlustige Tielman was die Shackleton-staproete ‘n belewenis waar hulle ‘n gedeelte van sy roete gaan stap het en op sy spore teruggegaan het. Shackleton was een van die groot ontdekkingsreisigers wie se skip in die pakys vasgesit het op pad na Antarktika en later gesink het.
Hy het toe vir amper twee jaar lank eers gestap oor die ys en later met ‘n reddingsboodjie geseil terug na Suid-Georgië. Hy het aan die westekant van die eiland geland en moes oor die berge klim om by ‘n walvisstasie uit te kom.
Yskoepel
Na ‘n week by Suid-Georgië, het hulle van die suidelike punt verder suidwaarts geseil na die vasteland van Antarktika en weer lesings gekry oor hulle volgende bestemming. Onder andere oor die ou ontdekkingsreisigers en die yskoepel oor Antarktika. Meeste mense weet nie dat die yskoepel oor Antarktika se gemiddelde dikte ongeveer 2 200 m is nie. Dis dubbeld Tafelberg se hoogte en plek-plek selfs tot 4 700 m dik.
Die vaart vanaf Suid-Georgië tot by die Antarktiese vasteland het sowat elf dae geduur. Op die derde dag het hulle in ‘n ysveld ingeseil waar daar eenvoudig net ys was van alle kante. Hulle het eers gedink hulle sal deur dit kan seil, maar op ‘n stadium het die kaptein gesê dit raak ‘n probleem.
Hulle het omgedraai en terug noord geseil om uit die ysveld uit te kom deur rondom die ysveld te seil weswaarts en toe weer aan die anderkant verder suid gegaan.
In daardie stadium van die vaart het hulle baie wind van voor gekry wat hulle vordering baie vertraag het. Die ou seilskepe is goed saam met die wind of met wind van die kant, maar teen die wind sukkel hulle taamlik.
“Ek was egter baie beïndruk met die ou skip wat duidelik alle omstandighede kan hanteer. Jy pas jou seile aan volgens die wind. Hoe sterker die wind, hoe minder seile,” verduidelik Tielman.
Antarktika
Die eerste nag wat hulle in Antarktika aangekom het, het hulle kwaai sneeu en wind gekry. Elke dag het hulle aan wal gegaan, gestap en pikkewynkolonies besoek en snags het hulle op die skip geslaap.
Antarktika is natuurlik net sneeu en ys in vergelyking met Suid-Georgië waar sommige van die kusvlaktes wel groen is. Die skakerings van wit, blou, grys en bruin rotse is op ‘n ander manier aangrypend. Daar is ongelooflike sterk wind by Antarktika en veral die ‘Drake Passage’ tussen Antarktika en Suid-Amerika is berug vir rowwe see, sterk wind en sterk see strome.
Die tekens van aardverwarming is onmiskenbaar. Volgens ‘n paar permanente bemanningslede kon hulle duidelik die verskil sien. Gletsers wat afgekom het tot in die see, smelt nou ‘n kilometer of twee hoër op reeds weg en laat die laaste stuk by die see net met kaal rotse. ‘n Gletser kan egter nie beoordeel word deur net na sy tong te kyk nie. Belangriker is om te kyk wat gaan bo aan waar hy gevorm word.
Daar is stukke van die yskoepel wat eenvoudig afbreek. Die skip het verby ‘n ysberg geseil van oor die 3 km lank wat ‘n stuk van die yskoepel was wat afgebreek het. Daar was ook ‘n berig oor ‘n stuk ys van ongeveer 70 km lank wat afgebreek het en nou nog in die see dryf.
“As gevolg van stormagtige toestande, wat niks vreemd is by Antarktika nie, was dit nie moontlik om by al die beplande plekke aan wal te gaan nie. Dit het egter nie afbreuk gedoen aan die grootsheid van die belewenis om Antarktika te besoek nie” sê Tielman.
Elke aand om 08:00 het hulle ‘n kapteinsinligtingsessie gehad. Tydens een van hierdie sessies het die kaptein gesê dat die weervoorspelling vir ‘n paar dae later in die noordelike helfte van ‘Drake Passage’ baie sterk noordewind voorspel.
Dit was nie goeie nuus nie want dit beteken winde reg van voor! Die beplanning moes daarvolgens aangepas word en met die gevolg het hulle twee dae vroeër uit Antarktika vertrek het as wat beplan was.
Laaste landing
‘n Laaste landing en oornagstop voor die verwagte rowwe skof noordwaarts na die suidpunt van Suid-Amerika, was toe die Antarktiese Deception Island. Dit is ‘n ‘’aktiewe” vulkaan (laaste uitbarsting gedurende die sewentiger jare). ‘n Deel van die “caldera” het oopgebreek en kan ‘n skip nou tot binne-in die vulkaan vaar.
Dit is nogal ‘n relatief beskutte ankerplek.
As gevolg van die weervoorspelling het hulle daarna nie reguit Suid-Amerika toe geseil nie, maar noordweswaarts in die Suidelike Stille Oseaan in, met die beplanning dat wanneer die noordwestewind hulle tref, hulle dan wes van Kaap Hoorn (Suidpunt van Suid-Amerika) is, sodat hulle die wind skuins van agter sal kry en sodoende saam met die stormwinde sou kon seil, wat perfek uitgewerk het. Die wind het hulle toevallig gevang op Ou-Kersaand wes van Kaap Hoorn.
Die vaart van daar, om Kaap Hoorn en dus om die suidelike punt van Suid-Amerika in hierdie sterk wind van oor die 50 knope, was vir Tielman een van die hoogtepunte van die hele vaart.
Hulle het toe van die oostekant af in die Beagle seestraat op gevaar tot by Ushuaia, die suidelikste dorp ter wêreld waar hulle vaart geëindig het. Hierdie dorp se slagspreuk is tereg “the end of the world,” want verder kan geen mens sonder ‘n skip nie.
“Ek het verskriklike hoë verwagtinge gehad vir die vaart, maar alle verwagtinge is ver oortref. Elke nuwe ervaring was op sy eie manier ‘n nuwe hoogtepunt” glimlag Tielman.
Tielman Roos aan die stuur van die Bark Europa.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’