STILBAAI NUUS - Heelwat inwoners van Stilbaai het die nat weer trotseer om na premier Alan Winde te luister tydens sy besoek aan dié kusdorp op Saterdag, 16 Oktober.
Winde was deur Tertuis Simmers, LUR vir menslike nedersettings van die Wes-Kaap vergesel om Hessequa-munisipaliteit en sy inwoners te bedank vir die suksesse en goeie stories in die streek.
"Die munisipaliteit kan net so goed wees as wat sy inwoners hom toelaat om te wees en dis hierdie verhouding wat Hessequa laat uitstaan, nie net in die Wes-Kaap nie, maar oor die hele land heen," het hy gesê.
Winde het die munisipaliteit bedank met die goeie werk wat hulle doen en dat sewe goeie oudits agtereenvolgens ongehoord in plaaslike regering is. "Goeie regering behoort 'n gewoonte te wees, maar jy moenie kla as jy nie gestem het nie."
Volgens hom is die werkloosheidskoers in die land is 34% en 60% van graad 1s kom nie by graad 12 uit nie.
"Die Wes-Kaap het egter soveel aandag aan die skoolstelsel bestee, dat 67% van graad 1s wel tot graad 12 vorder."
Op 'n vraag oor wat hulle gaan doen om die gruispaaie in die platteland beter in stand te hou, het hy gesê dat daar 36 000 km grondpaaie in die provinsie is. "Ongelukkig moet ons volgens sekere kriteria na die instandhouding kyk as gevolg van beperkte fondse beskikbaar. Mense kan egter gerus wees dat die owerhede 'n regverdige evaluasie stelsel in plek het om te bepaal wanneer watter paaie 'n kans kry."
Van links is Tertuis Simmers, Alan Winde en Grant Riddles, uitvoerende burgemeerster. Foto: Johan Victor
'n Vroeë foto van inwoners wat die geleentheid bygewoon het.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'