HESSEQUA NUUS - Met die stygende misdaad en staatskorrupsie, is daar tog ook positiewe gebeure wat weer die hoop effens laat opvlam.
Suksesvolle polisieoptrede om misdaad hok te slaan, is een van hulle. Die plaaslike polisie in Riversdal en Heidelberg, veral, het die afgelope ruk met 'n ystervuis toegeslaan en 'n paar booswigte aangekeer.
Dwelms en onwettige vuurwapens was in drie gevalle betrokke.
Danksy 'n puik spanpoging is twee dwelm-smokkelaars in Riversdal in hegtenis geneem en beslag gelê op 'n groot hoeveelheid Mandrax en tik.
Op Sondag 17 Julie is 'n jongman in Mandelastraat op drie aanklagte van die onwettige handel in tik en Mandrax vasgekeer. Dié verdagte het op Maandag 18 Julie in die hof verskyn, maar die saak is tot Woensdag 27 Julie uitgestel.
Die tweede verdagte is in Borcherdstraat aangekeer op twee aanklagte van die onwettige handel in tik en Mandrax en dié saak is ook tot 27 Julie uitgestel.
Die arrestasiebeampte was konst. Garnet Damons en hy is ondersteun deur sers. Sidwell Geswind, sers. Etienne Abrahams, konst. Mornay Hoffman, sektorbestuurder ao. Hans Busch, sers. Christiaan Jansen, sers. James-Johanse Spangenberg van die honde-eenheid en konst. Edwin Kortje.
Ses mense is in Heidelberg aangekeer in twee afsonderlike voorvalle wat met onderskeidelik 'n gesteelde bakkie en 'n onwettige vuurwapen en ammunisie verband hou.
Die plaaslike polisie is Saterdag 23 Julie omstreeks 12:30 ingelig oor 'n silwerkleurige Mazda Rustler-bakkie wat vroeër die dag in Albertinia gesteel is. Die polisie het dié voertuig in Petunia-rylaan in Heidelberg opgemerk.
Die bestuurder van die bakkie het uitgespring en weggehardloop, maar twee insittendes is in hegtenis geneem. Die bakkie is later aan sy regmatige eienaar terugbesorg.
Die twee mans, 34 en 26 jaar oud, het Maandag 25 Julie in die landdroshof in Riversdal op aanklag van motordiefstal verskyn.
Die provinsiale verkeerspolisie het Donderdagaand 21 Julie tydens 'n roetine padblokkade op die N2, naby die voetbrug by Heidelberg, vier mans in hegtenis geneem nadat hulle op 'n onwettige rewolwer en ammunisie in hul motor afgekom het.
Die mans, onderskeidelik 25, 34, 29 en 37 jaar oud, is omstreeks 19:30 voorgekeer toe verkeersbeamptes hul silwer Polo Vivo afgetrek en deursoek het. Hulle is aan die plaaslike polisie oorhandig waar hulle aangekla is vir die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie.
Volgens die polisie is die vuurwapen se reeksnommer afgevyl. Dié vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit vir enige misdaad gebruik is.
Een het op Vrydag 22 Julie 'n bekentenis gemaak nadat hy in die hof in Heidelberg verskyn het. Die saak teen hom is tot Maandag 1 Augustus uitgestel vir 'n borgtogaansoek. Hy bly in aanhouding in die Buffeljagsrivier-gevangenis.
Die klag teen die ander drie is teruggetrek.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'