Volgens een van die lede van Riversdal se misdaadvoorkomings-span, het hulle reageer op 'n anonieme oproep uit die gemeenskap dat drie verdagtes met dwelms in hul besit na Albertinia onderweg is. Hy het dadelik die res van die span ontbied en die verdagte motor is teen ongeveer 04:30 in Stasiestraat afgetrek.
"Ons het die voertuig deursoek en op 'n groot hoeveelheid Tik en ongeveer 50 Mandrax tablette afgekom, waarvan die straatwaarde op bykans R10 000 beraam word," het die lid aan Suid-Kaap FORUM gesê. Daar is op die dwelms en die voertuig beslag gelê en drie mans tussen die ouderdom 30 tot 33 jaar is in hegtenis geneem. Hulle het Woensdag, 3 Julie in die hof verskyn, maar teen druktyd was dit nie bekend of borg toegestaan was nie.
Die lid het bygevoeg dat hierdie verdagtes bekende dwelmsmokkelaars is en 'n groot kopseer in die plaaslike gemeenskap is. Met hierdie arrestasie rig hulle 'n waarskuwing aan alle dwelmsmokkelaars dat die polisie hulle wel een of ander tyd sal vastrek.

Van links staan kst. Botha, a.o. Coetzee, brig. Jantjies (Da Gamaskop Cluster, Mosselbaai), maj. Chrisna Auret (stasiebevelvoerder Riversdal), a.o. Bacons en sers. Bush. INLAS: Sers. T. George. Foto: Wilma Adamson.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal | Hessequa nuus'