Die Madagaskar-bondpaling (Anguillidae Marmorata) en Geelbekpaling (Anguillidae Mossambica) smul daagliks om 11:00 aan vars hoenderlewers, tot groot vermaak van besoekers.
Die voer van die palings het deur die jare 'n gewilde toerisme aantreklikheid geword. Omdat die palings in 'n natuurlike watergat leef, is hulle vatbaar vir die natuur en natuurlike elemente van die area, waaronder otters wat van tyd tot tyd gesig wys. Die watergat waarin in hul leef is verbind met die natuurlike fontein wat in die Goukourivier uitloop.
Otter manewales!
Woensdag, 4 Desember is Suid-Kaap FORUM gekontak rakende 'n spanpoging tussen CapeNature, Hessequa munisipaliteit, Stilbaai Sakekamer en ander omgewingsliefhebbers om die palings van 'n gewisse 'otter dood' te red. Personeel van die opstal het opgemerk dat die palings ewe skielik sku geraak het en 'n dooie paling is ook gesien.
Daar word vermoed dat dit 'n 'Cape Clawless' (Anonyx capensis) is, maar dis nie seker nie.
CapeNature het dadelik 'n vanghok en kamera opgestel, maar alle pogings om die otter te vang was onsuksesvol. Die heining om die watergat was ook nie meer voldoende om enige beskerming te gee nie. Daar is besluit om 'n borg te soek vir die oprig van 'n nuwe heining. Wyksraadslid dr. Joan Prins het dadelik aan die werk gespring en Hendrik Visser van die omgewingsdepartement betrek, sodat Hessequa die verlangde heining vervang op hul koste. Dit is vroeg Vrydagoggend herstel en is die otter intussen nie weer opgemerk nie.

Die Palinggat Opstal is bekend vir sy palinggat met mak palings wat daagliks deur personeel van die opstal gevoer word. Inlas bo: 'n Personeellid van Stilbaai Toerisme voer 'n mak paling. Inlas onder: 'n Generiese beeld van 'n 'Cape Clawless'.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'