STILBAAI NUUS - Marli Dercksen, dogter van bekende inwoners, Len en Ria Kruger het onlangs 'n besonderse Phd in Kliniese Biochemie voltooi aan die universiteit van Amsterdam.
Sy het meer hieroor vertel in 'n e-pos aan Suid-Kaap FORUM. “Ek het in 1999 by die Noord-Wes Universiteit (destyds PU vir CHO) my B.Sc-graad in Biochemie en Mikrobiologie begin met groot onsekerheid oor wat ek nog eendag in my lewe gaan doen.”
In 2009 ontvang sy 'n beurs by die Koninklike Nederlandse Akademie vir Wetenskappe om 'n Ph d in Kliniese Biochemie aan die universiteit van Amsterdam te doen.
Vandag is sy die hoof diagnostikus en bestuur sy die Potchefstroom Laboratorium vir aangebore metaboliese siektes wat ook die enigste van sy soort is in Suid-Afrika. “Dit is voorwaar vir my ’n groot voorreg om ’n verskil te maak in die lewens van families en kinders wat geraak word deur rare genetiese metaboliese siektes.”