Vier jong seuns het die vorige middag op die liggaam afgekom terwyl hulle visgevang het.
Die vier jeugdiges was egter so geskok dat hulle eers die volgende dag die moed bymekaar geskrap en 'n familielid van een van hulle daarvan ingelig het, wat onmiddelik die polisie in kennis gestel het. Een van die jeugdiges, Shamiel Jantjies (15), het gesê dat die man so te sê naak was met net 'n tekkie aan die regtervoet en 'n blouerige t-hemp wat tot by sy skouers opgetrek was.
Volgens die polisie is die man klaarblyklik al 'n paar dae dood, aangesien die liggaam reeds begin ontbind het.
Hulle doen 'n ernstige beroep op enigiemand wat 'n familielid of vriend vermis, om met sp. a.o. Reon Grundlingh, plaaslike ondersoekbeampte by 028 722 1910 of by hul naaste polisiestasie, kontak te maak.

Die liggaam van die onbekende man dryf in die water op die oewer van die Duivenhoksrivier.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg | Hessequa nuus'