HESSEQUA NUUS - Alisha de Lange is een van Solidariteit Helpende Hand se streekorganiseerders en is tans besig om 'n reuseverskil in die Wes- en Suid-Kaap te maak.
Sy hoop om takke wat ontbind of onaktief geraak het weer op die been te bring en sodoende 'n verskil in elke streek te maak.
De Lange is sedert 2014 by Helpende Hand en sy was tot en met April vanjaar die streekorganiseerder in Mpumalanga.
"Ons fokus was nog altyd op ons kinders, gestremdes en bejaardes gewees," het De Lange gesê. Ek wil graag in die Wes-Kaap hierdie weerlose groep mense se behoeftes aanspreek. Dis belangrik om nie net verligting te wil bring nie, maar om werklik die sirkel van armoede te verbreek. Daarvoor het ek vrywilligers van oor die Wes- en Suid-Kaap nodig wat saam met my hande wil vat en 'n verskil wil maak om vir ander mense weer hoop te gee."
Helpende Hand is 'n nie-winsgewende organisasie wat deur 'n verskeidenheid projekte, gemeenskappe van oor die land ophef. Meer as 160 takke is reeds in ander dele van die land gevestig en daar is groot opgewondenheid oor die vestiging van takke in die Kaap. Die eerste tak is reeds in die Strand gestig en sal eersdaags met groot opheffingswerk begin.
Vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan raak by opheffingswerk in jou gemeenskap, kontak Alisha de Lange direk op 082 923 1438 of stuur 'n e-pos aan alisha@helpendehand.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'