STILBAAI NUUS - Goeie nuus vir Stilbaai se sakeondernemings is dat die jaarlikse Stilbaai-sakekamer prestige toekennings wel vanjaar gaan plaasvind.
Dit is volgens Rachel Wall, voorsitter van Stilbaai-sakekamer. "Dié sake-galaplegtigheid wat spesifiek ten doel het om erkenning aan lede te gee wat uitstaande diens lewer, kon as gevolg van die Covid-19-pandemie nie verlede jaar plaasvind nie," het sy gesê.
Die geleentheid was in 2018 vir die eerste keer aangebied.
Nominasievorms met die vereistes en assesseringskriteria per kategorie sal beskikbaar gestel word, waarna wenners deur middel van 'n gestruktureerde onderhoud deur 'n onafhanklike keuringskomitee, wat uit nie-sakelui bestaan, bepaal word.
Met insette van lede is die kategorieë vir die 2019-toekennings aangepas vanaf klein, medium en groot ondernemings na 'n sektor gedrewe groepering, drie wenners (goud, silwer en brons) wat deur middel van 'n aanlyn publieke stemproses bepaal is.
Toekenningsproses
Alle sakeondernemings wat vir die afgelope twee jaar ledegeld betaal het (Februarie tot Maart 2020 en 2021) se ondernemings sal op die elektroniese stemprosesstelsel gelys word. Die stelsel behoort reeds vanaf 15 April en sal tot 6 Mei beskikbaar wees. Die kategorieë is dieselfde as dié wat in 2019 gebruik is (sektor gedrewe).
Drie stemme per kategorie word per e-posadres toegelaat. Die proses sal op al die Stilbaai sosiale netwerke bekendgemaak word, plakkate in strategiese plekke in die dorp opgeplak en artikels in Suid-Kaap Forum geplaas word, ten einde te verseker dat die gemeenskap in Stilbaai kennis van die geleentheid neem om vir hul voorkeur onderneming te stem.
Bekendmaking van wenners
Die bekendmaking van drie wenners per kategorie word beplan vir 20 Mei. Die geleentheid sal by die pragtige Privelistea-lokaal in Jongensfontein plaasvind.
Die spreker by die geleentheid is André Diederichs, 'n bekende sakekenner, spreker, skrywer en mediapersoonlikheid.
Hy het 'n uitgebreide agtergrond in sake- en bemarkingstrategieë in verskillende ekonomiese sektore en werk saam met verskillende advies- en bemarkingsagentskappe. Hy is ook 'n stigterslid van FABASA (Family Business Association of South Africa) en is lid van FFI (Family Firm Institute), 'n internasionale verening vir gesinsondernemings.
Een van sy nege boeke wat hy gepubliseer het Bemark of Bevark jy is bekroon as een van die vier beste sakeboeke.
Die skakel vir die stemprosesstelsel is https://bit.ly/32dIVcs.
Neem kennis dat, weens die Covid-19-pandemie word dit oorweeg om die algemene jaarvergadering en die toekenningsplegtigheid gedurende dieselfde geleentheid aan te bied.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'