Update
BUFFELJAGSRIVIER NUUS - Nog 'n vrou is tydens die 16 dae van aktivisme-veldtog in die Buffelsjagrivier-distrik vermoor.
Cedile Michaels (33) is drie weke na haar niggie, Fransionette Jantjies vermoor.
Die 23-jarige Jantjies se liggaam is in 'n gevorderde stadium van ontbinding langs die Buffeljagsrivier gevind. Michaels is blykbaar deur haar 44-jarige saamleefman op die plaas Fairview met 'n onbekende voorwerp aangerand.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is Swellendam-polisie Sondagoggend 2 Desember omstreeks 06:50 na 'n klag van 'n moontlike moord ontbied.
Met hul aankoms op die toneel is die liggaam van die oorledene aangetref. Pojie noem verder dat Michaels en die beskuldigde blykbaar die vorige nag baklei het en hy haar verskeie kere met 'n voorwerp geslaan het.
Na die bakleiery het hulle gaan slaap en die volgende oggend is sy dood in die bed aangetref.
"Die beskuldigde is in hegtenis geneem en het Dinsdag 4 Desember in Swellendam-landdroshof op aanklag van moord verskyn."
Michaels laat haar seun, Fiarick (10), haar ma Elizabeth, haar pa, Cedric Rossouw, vier susters en een broer agter. Die begrafnisdiens vind Saterdag 15 Desember om 09:00 vanaf die St. Lukes Anglikaanse Kerk, Swellendam plaas.
Lees 'n vorige artikel: Twee niggies binne 3 weke vermoor
'Ons bring jou die nuutste Buffeljagsrivier, Hessequa nuus'