Video
ALBERTINIA NUUS - Sy het grootgeword in 'n skrywershuis. 'Stories maak' het sy ingekry met moedersmelk.
Ma Emily Pieterse het 49 boeke geskryf en broer Pieter Pieterse 33 boeke, ook bekroondes, asook draaiboeke vir die wye doek, radiovervolgverhale en verskeie gewilde televisiereekse.
Wie is hierdie vrou? Ons gesels vandeesweek met Marietjie Coetzee van Voëlroepersfontein op Albertinia. "Wie sou belangstel om iets te wete te kom van my? Veral as inkommer vanuit Gauteng in die Suid-Kaap waar ek by wyse van spreke eintlik in die muurpapier verdwyn? Of tussen die baie bome van Voëlroepersfontein?" is haar woorde toe ek my sitmaak in haar gastehuis.
En toe sy begin vertel, weet ek sommer ek het reg gekies.
Toe sy 12 jaar oud was, hierdie vrou, het sy serebrale malaria oorleef omdat 'n diep gelowige ma geweier het om haar kind aan die dood af te gee. Dekades later hoor sy 'n mediese dokter vertel van die dogtertjie uit die wêreld waar sy grootgeword het, 'agter die berg', tussen Messina en Louis Trichardt, wat serebrale malaria in die finale stadium oorleef het.
"Daardie dogtertjie was ek," het die vrou gesê. En toe sê die dokter: "Van vandag af moet jy jouself elke dag afvra waarom jy ouer geword het as twaalf."
"Ek skat dít is waar my geskiedenis begin. Én by daardie ma wat soos Jaïrus van ouds in die onmoontlike van 'n kind se oorlewing bly glo het. My vroegste herinnering was by daardie ma se knie waar ek ure lank gespeel het met my poppies en my flennielappies terwyl haar twee voorvingers soos weerliggies oor die Remington tikmasjien se toetsbord uitgeskiet het.
Sy kon so vinnig dink soos sy stories geskryf het. Ek onthou die onbevange geborgenheid van daardie tyd: alles is wel. En dít het later die basis gevorm van my Godsbegrip: dié blindelingse vertroue in die Hoër Hand - by wie se knie ek steeds sit. Ten spyte van."
Kyk 'n video hieronder:
Sy het drie dogters waarvan een, Jeanie Sothman, op 7 Maart 2007 na haar ewige tuiste verhuis het. Sy was 'n maatskaplike werker en die vrolike opsiener van die hele familie.
Hanlie Hornsveld, opgelei as joernalis is werksaam by die Aloe Ferox-aalwynfabriek buite Albertinia. Mari de Kock van Riversdal dra die skrywersgene voort met 'n BA-graad in skeppende skryfwerk.
"Ek het ses kleinkinders waarvan Marinus Hornsveld in 2015 hoofseun van Hoërskool Langenhoven was en Jeanie de Kock tans hoofmeisie van Laerskool Volschenk. Haar broer, John-Michael, is op die leerlingraad."
Met 'n TOD-onderwysdiploma, 'n verdere onderwysdiploma, BA-tale en 'n honneursgraad hou sy twaalf jaar lank skool en kry as Departementshoof: Afrikaans 'n werksaanbod uit die uitgewersbedryf. Die tyd in die onderwys was die sinvolste van haar lewe vertel sy. "Talle matrikulante behou steeds kontak. Ek kon my liefde vir die letterkunde - en vir hulle as ontluikende jongmense - daagliks oordra."
Sy werk as uitgewer vir bykans 30 jaar by HAUM-Literêr, Human & Rousseau en Best Books en was bevoorreg om die heel grotes van die Afrikaanse letterkunde, taalkunde en opvoedkunde se manuskripte te publiseer.
In 2012 tree sy af en verhuis in 2014 na Albertinia waar 'n klein fonteinland en paradys van 1.6 hektaar vir haar wag: "Ek noem dit Voëlroepersfontein en later Voëlroepersfontein Gastehuis & Skrywersretreat.
Dit is 'n plek van heling, 'n plek met uitgestrekte tuine, baie water en bome, maar veral 'n wildevyboom met 'n teenwoordigheid wat oorbluf en ontwapen. Sy naam is Die Fluisterboom en hy is pas bekroon as kampioenboom - een van die tien dikste bome in Suid-Afrika."
"In die pylvak van my lewe wil ek 'n middel tot 'n doel wees: dat mense hulself by Voëlroepersfontein sal oriënteer ten opsigte van hul plek in die heelal, in die groter plan van dinge." Sy het twee eggenote aan die dood afgestaan en is drie jaar gelede getroud met Burt van Wyk, 'n afgetrede vlieënier.
Sy doen steeds vryskutwerk vir uitgewers; begelei skrywers in die skep en afronding van manuskripte en vir ontspanning geniet sy haar hoenders en groentetuin, asook die rustigheid op die kleinhoewe.
Dit was vir my 'n groot voorreg om saam met Marietjie 'n oggend in haar paradys te spandeer.
ARTIKEL, VIDEO EN FOTO: ELIZE BLOM, SUID-KAAP FORUM JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'