HEIDELBERG NUUS - 'n 61-jarige man is Maandag 23 Julie in die vroeë oggendure op heterdaad betrap waar hy na bewering besig was om koperdraad te steel.
Twee oplettende polisiebeamptes, konst. Carlet September en konst. Keanan Fredericks het terwyl hul gepatrolleer het, 'n wit Nissan-bakkie langs die Witsand-pad gesien en ondersoek ingestel.
Volgens ao. Alroy Windvogel, plaaslike mediawoordvoerder, het die verdagte, van Port Elizabeth afkomstig, ongeveer 04:00 gevlug toe dié lede hom wou konfronteer.
"Hy is deur lede van Swellendam-polisie net buite Buffeljagsrivier op die N2 rigting Kaapstad by 'n padblokkade vasgetrek."
Windvogel noem verder dat die verdagte Sondag 22 Julie saam met 'n plaaslike inwoner by 'n taverne gesien is.
Vyf rolle koperdraad, handskoene en ander gereedskap is agter op die bakkie gevind.
Die verdagte sou Woensdag 25 Julie in die plaaslike hof verskyn.
Die rolle koperdraad en handskoene wat op die bakkie gevind is.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'