Leerders vanaf grade 4 tot 7 het deel uitgemaak van die World Children's Prize Foundation (WCPF) se projek om 'n wenner aan te wys wat hulle wêreldwyd vir kinderregte beywer.
Dié projek van die WCPF is in samewerking met die departement onderwys en die Onafhanklike Verkiesings Kommissie (OVK) in die Wes-Kaap van stapel gestuur.
Leerders tussen 10 tot 17 jaar oud kry die geleentheid om te stem vir drie kandidate, al drie kinderregte aktiviste, waaronder 'n Suid-Afrikaner, Ann Skelton. Die ander twee kandidate is Anna Mollel van Tanzanië en Shakena Jacoolin van Afghanistan.
Daar is een skool per munisipaliteit vir die projek geïdentifiseer, en was De Waalville Primêr baie gewillig om deel te neem aan die unieke projek.
Die projek is reeds geruime tyd oor die wêreld bekend, maar is dit vanjaar die eerste keer dat die Wes-Kaap deelneem.
Meer as 17 000 skole regoor die wêreld neem deel aan die projek se verkiesing. Van die skool se prefekte het as verkiesingbeamptes tydens die verkiesing opgetree. Die verkiesing is in die skoolsaal gehou. Me. Thelma Meyer, plaaslike OVK kantoorbestuurder, het die verrigtinge gefasiliteer en was in haar skik met die leerders se deelname om hul stem uit te bring, maar veral met die prefekte wat hulle so goed van hul taak gekwyt het.
Sover die uitslag van die verkiesing was dit seker nie gunstig vir ons plaaslike kandidaat, Skelton nie, wat maar 142 teen Mollel se 267 stemme verwerf het. Jacoolin kon net 23 stemme verwerf. Die finale telling vind in Swede plaas en sal dit teen Vrydag, 4 Mei 2012 bekend gemaak word wie van die trio die gesogte "World's Childrens Prize" gewen het.

Die groep prefekte het as kiesbeamptes tydens die stemmery in die skoolsaal opgetree.. Agter staan Thelma Meyer, Hessequa OVK kantoorbestuurder, hoogs in haar skik met die groep se bydrae om die dag suksesvol af te handel.
ARTIKEL EN FOTO'S: CLIVE PRETORIUS