STILBAAI NUUS - Sosiale media het die naweek weer gegons oor haweloses wat in die sakekern van die dorp leeglê.
Die knelpunte is oop grond langs die dokterspreekkamers in Voortrekkerstraat en 'n parkeerterrein om die hoek in Van Riebeeckstraat, langs 'n supermark.
Op een van die Stilbaai Facebook-groepe was inwoners ontstoke oor die bosslapers se openbare drankmisbruik, onwelvoeglike gedrag en opdringerige bedelary. Volgens een van die inskrywings is 'n sakeman onlangs met 'n mes gedreig toe hy nie geld wou gee nie.
Menings oor oplossings vir die probleem was uiteenlopend. Terwyl sommige die oprigting van skuilings bepleit het, het ander die blaam voor jammerhartige Stilbaaiers wat aalmoese uitdeel, se deur gelê.
Op Suid-Kaap Forum se navraag het kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder gesê hulle verwyder gereeld die mense uit die strate, maar die volgende dag is hulle net weer terug. Hy maan ook inwoners om nie geld te gee wanneer by hulle gebedel word nie, want dit lei tot die koop van drank wat probleme veroorsaak.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'