RIVERSDAL NUUS - 'n Bekende inwoner, Johannes (Hans) Hardnick wat na 'n kort siekbed op 13 Oktober oorlede is, is Saterdag 21 Oktober ter ruste gelê.
Hardnick het by KVR Veilings gewerk en was vir 22 jaar in die veilingsbedryf. As jongman speel hy rugby vir die destydse Flying Swallows en Garcia-rugbyklub as flank.
Later word hy voorsitter van Riversdal-rugbyklub.
By die St. Andrews Anglikaanse kerk was hy 'n stigterslid van die Revivals, praise and worship-span, lekebedienaar, asook alternatiewe kerkvoog.
By die buitestasie, St. Mary's op Brakfontein dien hy die gemeenskap as lekebedienaar.
Die mense-mens met sy skaam glimlag en innemende persoonlikheid was bekend vir sy liefde vir sy kerk en diensbaarheid aan sy gesin. Ook as kleinboer leef hy sy liefde vir die aarde en diere uit.
Hy word oorleef deur sy vrou, Maria, twee dogters, 'n seun en sewe kleinkinders.
Sy begrafnisdiens is deur eerw. Arthur Stephens uit 'n stampvol kerk gelei.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'