Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - 'n Draai teen 'n steil afdraand op die N2 tussen die dorp en die afdraai na Stilbaai het Donderdagoggend 7 Februarie tot nog 'n ongeluk gelei.
Volgens die Verkeersdepartement is dit nie die eerste keer dat 'n bestuurder hier beheer oor sy voertuig verloor nie en motoriste word gemaan om versigtig te wees op die stuk pad sowat 10 km buite die dorp.
Behalwe dat die spoedgrens hier 100 km/h is, is daar 'n veilige verbysteekbaan en die verkeerspolisie is gereeld daar om 'n oog op motoriste te hou.
Johannes Mapanja, 'n werknemer van KNH Freight, was tussen Kaapstad en Port Elizabeth op pad met 'n vrag wat onder meer verf en ander vlambare produkte ingesluit het. "Ek het beheer oor die voertuig verloor," het die bestuurder op die toneel gesê. "Ek was alleen en het nie seergekry nie."
Mabhele Tshangela, 'n werknemer van d lite, was met 'n vrag kookolie op pad vanaf Kaapstad na Port Elizabeth het net na die ongeluk opgedaag. "Ek het net na 02:00 op die toneel aangekom. Ek het gesien hoe die bestuurder by die vragmotor se venster uitklouter."
Omdat die vragmotor en sleepwa vlambare materiaal vervoer het, was George Brandweer se Hazmat-eenheid (gevaarhoudende stowwe reaksie-eenheid) gou op die toneel. "Die situasie moet moniteer word om te verhoed dat 'n brand ontstaan," het Jaco Pretorius van die forensiese patologiese afdeling verduidelik.
'n Plastiektenk met vlambare materiaal is meganies uit die vragmotor se ruim verwyder voor die res van die vrag met die hand uitgelaai is. Die inhoud is later in 'n ander vragmotor gelaai wat Vrydagoggend steeds op die toneel was.
Bestuurders en passasiers van vragmotors en busse, wat kilometers ver weerskante van die ongelukstoneel opgedam het, moes geduldig wag tot 'n enkelbaan oopgestel is voor hulle kon verder ry. Passasiersvoertuie is deur verkeersbeamptes in een rigting op 'n keer deur 'n nou gaping tussen die omgeslane vragmotor en 'n grondwal begelei.
'n Houer met vlambare vloeistof is uit die ruim verwyder voordat die res van die goed uitgelaai is sodat die vragmotor op sy wiele gedraai kon word.
Sien 'n video hieronder:
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'