Gallery
RIVERSDAL NUUS - Dorpsplein
Die Makadas, een van die ou lokomotiewe is later jare deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë aan die munisipaliteit van Riversdal geskenk en kosteloos per vragmotor vervoer om as monument opgerig te word. Dit staan op die dorpsplein. Die lokomotief het wielsamestelling van 4-8-0 tipe en was in 'n puik toestand.
Dit is in 1892 deur Neilson en Kie van Glasgow vervaardig. Die lokomotief is tot voor die skenking op die Touwrivier-Ladismith sylyn gebruik, waar dit die naam Makadas gehad het. Sy werksvervaldatum was 1971.
President CR Swartstraat
Riversdal-stasie het ongelukkig in onbruik verval met vandalisme wat oorgeneem het. Vandag is daar net 'n geraamte van hierdie eens pragtige stasie, wat die Lady Duncan-trofee vir die mooiste stasietuin in 1992 vir die 10de keer gekry het.
Dit was die laaste keer dat die toekenning uitgeloof is. Die trofee is daarna na museum. Die stasie het reeds in 1943 'n kontantprys vir die beste tuin gekry.
In 1991 het Brian Lotter, bestuurder van openbare betrekkinge in Kaapstad het die Lady Duncan-diploma vir die derde mooiste tuin in die republiek aan Dirk Potgieter, stasiemeester van Riversdal oorhandig. In sy toespraak het Lotter gesê dat besigheid se beeld baie nou met sy perseel verbind is. In daardie tyd was Spoornet ten nouste by omgewingsbewaring en verfraaiing betrokke.
Langstraat
• Die straat is bekend vir die vele ou geboue wat vandag steeds in gebruik is, met die Royal Hotel (1845) wat onder een van die oudstes tel. John F Hudson het in 1845 'n groot enkelverdiepinghuis in die straat, wat as die Royal Hotel geïdentifiseer en wat later nog 'n verdieping bygekry het. Die hotel open in 1881 onder bestuur van mnr.
Lipman, 'n Duitser. Skilderagtig met sy massiewe balkon en groot gerieflike kamers. Dit word vandag steeds as hotel gebruik met 'n kroeg en eetkamer.
• Die Julius Gordon Africana Centre/Versveldhuis dateer terug tot 1880 en beskik oor Suid-Afrika se grootse versameling van Thomas Bowler stukke. Die kurator is Louise du Plessis.
Heidelberg-weg
St Matthews Anglikaanse kerk (1854) het sy ontstaan aan eerwaarde William E Belson te danke wat in Junie 1854 in die dorp aangekom en R1 200 ingesamel het vir die oprigting van 'n kerk. Hy het self R100 bygedra Die hoeksteen is op 22 November 1854 gelê. Daar is besluit op 'n grasdak omdat 'n sinkdak toe te duur was. Op 25 September 1856 word die kerk deur biskop Gray ingewy.
FOTOGALERY: Riversdal - ken jy jou dorp?
Die ou pyporrel in die kerk is een van slegs twee wat ooit van Engeland na Suid-Afrika gebring is. Dit is in 1882 met 'n skip, die Dolfyn en 'n ossewa na Riversdal gebring. Die ander een is in Swellendam.
Die Royal Hotel in Langstraat.
Kerkstraat
Die hoeksteen van die NG Moederkerk is op 4 Maart 1908 deur ds. J R Albertyn gelê ten aanskoue van 3 000 mense. Onder die hoeksteen is etlike geskiedkundige dokumente, tydskrifte en nuusblaaie gebêre, sowel as ou muntstukke wat onder die hoeksteen van die ou kerk gevind is.
Op 12 Februarie 2008 het almal bymekaargekom vir die verwydering van die verweerde hoeksteen. Verrigtinge is geopen met 'n verwelkoming deur ds. Chris Goosen.
Met 'n yskoue wind wat meeste laat bibber het, het almal gewag vir die groot oomblik. Die steen kon egter nie verwyder word nie, want ons voorvaders het 'n ding goed gedoen.
Kerkstraat, Riversdal.
R323
Die tolhuis is bo-op die kruin van die pas, ongeveer 19 km buite Riversdal. Dit is op 1 November 1877 in gebruik geneem en die tolgeld was gebruik om die pas in stand te hou. Dit is om middernag 31 Desember 1918 afgeskaf.
Dis binne die Kristalkloof-bosboureservaat geleë en is nog in 'n baie goeie toestand, hoewel dit nie meer in werking is nie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'