Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Uiters geslaagde vredesoptog deur Stilbaai-gemeenskapspolisieforum (GPF), in samewerking met die polisie en geestelike leiers is Sondagmiddag, 27 Februarie deur die strate van Melkhoutfontein gehou.
Die boodskap was baie duidelik: "Ons gaan Melkhoutfontein terugvat uit die kloue van die dwelmhandelaars. Ons gaan Melkhoutfontein se strate weer veilig maak en ons gaan ons kinders weer hoop gee!"
Mense met plakkate van hoop het oorkant die blou kerk bymekaargekom.
Die optog het bestaan uit verkeerspolisie, plaaslike polisie onder leiding van die stasiebevelvoerder, kapt Johan van Tonder, die Suid-Kaap openbare polisie orde, geestelike leiers, gemeenskapspolisieforumlede, brandbestrydingsdienste, munisipale raadslede onder leiding van die burgemeester, Grant Riddles en talle ander betrokke organisasies soos die Youth Desk en Badisa.
Terwyl die optog deur die strate op pad na die sportgronde gekronkel het, is die boodskap luid uit bassein dat die gemeenskap keelvol is, dat dwelms uitgeroei gaan word en dat daar nie meer plek vir dwelmhandelaars in die dorp is nie.
VIDEO - Inwoners waarsku dwelmsmouse:
Geestelike en morele waardes is aangespreek en oraloor is mense langs die pad en in huise uitgenooi om by die optog aan te sluit.
By die sportgronde het talle sprekers met die teenwoordiges gesels en die kernboodskap was dat die kinders van Melkhoutfontein belangrik is en dat hulle beskerm moet word.
Die Youth Desk het gesê dat my kind moet ons kind wees. "Vir jou as ouer moet al die kinders in jou straat jou kinders wees. Beskerm hulle soos jy jou eie kinders beskerm."
'n Groot aantal inwoners het aan die optog deelgeneem. Foto's: Johan Victor
Reginald Baker, onderhoof van Melkhoutfontein Primêre Skool het gesê dat dit ouers se plig is om die mag terug te vat.
"'n Kind kan mos nie vir 'n ouer sê: 'Ag, ek is nie lus vir skool vandag nie!' Dit is nie die werk van die skool, kerk of polisie om jou kind te dissiplineer nie. Dit is jou werk as ouer!"
Christel Cloete van die GPF het die gemeenskap uitgedaag om agter die deur uit te kom en om die gemeenskap skoon te maak. Van Tonder het gesê die behoefte moet weggevat word, want dan het die dwelmhandelaars nie werk nie.
Van die optoggangers.
Volgens Hendrik Petrus Uys is Tik 'n groot probleem.
Die woorde teen een van die huise in Melkhoutfontein spreek vanself.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'