Gallery
HEIDELBERG NUUS - Die RATEM Eisteddfod was nog altyd hoog op Hoërskool Heidelberg se prioriteitslys.
Geen wonder nie dat die N2 tussen Heidelberg en Riversdal van 29 Augustus tot 1 September warm gery is deur skoolbusse en ouers van dié skool nie om die jaarlikse hoogtepunt by te woon nie.
Dié skool het 'n rekordgetal van 120 leerders vir vanjaar se Eisteddfod ingeskryf met sommige leerders wat aan meer as een item deelgeneem het.
Die blootstelling wat die Eisteddfod aan dié leerders op hul voorstoep bied, is onvervangbaar, sê Hansie Saayman en Janneke van Schalkwyk, medekoördineerders van Hattieland se Eisteddfod-groep.
Ná ‘n suksesvolle laerskoolkonsert in Mei kon Hattieland se leerders nie hul geluk glo toe hulle nog ‘n geleentheid kry om op die verhoog op te tree nie. Hansie sê Hattieland gee hom uit daarvoor om vir élke leerder ‘n gelyke kans te gee. "Met dít as visie is gedigte, prosa-tekste, liedere, bladmusiek en toneeltekste met oorleg deur onderwysers en afrigters gekies sodat elke kind sy beste aanbieding of vertoning kon gee."
FOTOGALERY: Hoërskool Heidelberg vaar goed by RATEM Eisteddfod
Ses spreekkore, vyf orkeste, gedramatiseerde prosas, individuele gedigte, klavierduette, klaviersolo’s, sang, dans, kuns en ‘n uittreksel uit die laerskoolkonsert, wat as ‘n eenbedryf ingeskryf is, het die Eisteddfod-program gevul. Hattieland spog met puik uitslae.
"Die belangrikste egter is die ervaring en die blootstelling," reken Janneke.
Marianne Streicher, een van die hooforganiseerders van die RATEM Eisteddfod en sameroeper van die drama-afdeling, sê die glimlaggies op daardie gesigte maak al die harde werk die moeite werd.
Dié gr. 6- en 7-leerders was in aksie in die afdeling vir gemengde spreekkore. Hulle word deur Hansie Saayman afgerig
Die 120 leerders van Hoërskool Heidelberg wat aan vanjaar se eisteddfod deelgeneem en uitsonderlik gepresteer het.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'