HEIDELBERG NUUS - Jaco van Deventer (gr. 5) het in die junior kategorie van die Jersey Suid-Afrika jeugskou wat tydens die nasionale kampioenskappe op 22 Augustus in George aangebied is teen vier gr. 8 en gr. 9-seuns meegeding en is as die junior Jersey SA jeugskoukampioen aangewys.
Twee afdelings is aangebied, naamlik junior (moet 13 jaar oud wees op 31 Desember) en senior (mag nie ouer wees as 18 jaar op 31 Desember nie).
Hulle het in drie afdelings - was, voorbereiding en skouman - deelgeneem. Die punte in die onderskeie afdelings behaal bepaal dan die junior en senior kampioen.
'n Dragtige vers ter waarde van R14 000 is as prys vir die onderskeie kampioene geskenk. Avondgloed Trust, Nico van Rensburg van George het die vers vir die junior kampioen en Doornvlei Jerseys, Pieter van Deventer van Heidelberg vir die senior kampioen geskenk.
Hulle is voorsitters van onderskeidelik die Outeniqua- en Suid-Kaap Jerseyklub.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'