Gallery Update
HEIDELBERG NUUS - SOMERSKOOL: Na afloop van die skool se eksamens het groot opgewondenheid onder die leerders geheers oor die naderende somerskool.
Vanjaar het dit oor vier dae, vanaf 4 tot 7 Desember gestrek en is deur Heidelbergers, asook vrywilligers vanaf buurdorpe aangebied.
Die inisiatief is verlede jaar deur 'n paar Hattie-ouers op die been gebring om leerders oor die laaste paar dae van die vierde kwartaal konstruktief besig te hou en sodoende die personeel 'n kans te gee om alle administrasiewerk af te handel.
Op die kultuurfront het die kunsperiodes by Louise Kluyts se studio ook baie aftrek gekry.
Die bak-en-brou klasse van Hanlie Uys het uit hul nate gebars asook die handwerkperiodes van Michelle Moodie.
Wim Voster en Merinda Uys het die drama en sanggroep afgerig vir 'n Kersitem wat op die sewende gelewer is.
Die biblioteek se tannies het die kinders met verskillende tipes musiek en danspassies vermaak.
Die kinders het ook die geleentheid gekry om meer omgewingsbewus te word deur middel van tuinbousessies in die Culla Uys-tuin saam met Pat Esau.
Pierre van den Berg het ook groepe op Heidelberg se voëlkykroete deur die Culla Uys-tuin geneem.
Henque Waste het die leerders meer kom vertel oor die belangrikheid van herwinning vir die planeet se voortbestaan, terwyl die plaaslike brandweer 'n praatjie oor brandbestryding gegee het.
Vanjaar is daar ook meer aandag aan die skoner geslag gegee deur 'n skoonheidsterapiepraatjie deur Bianca Ferreira en grimeersessies deur Janelle Uys.
Die feestelikheid is op 7 Desember afgesluit met Flieknet Vrydag waartydens twee animasie flims vertoon is asook 'n Kersfeesitem van die drama en sanggroepie gelewer is.
Die skool bedank al die vrywilligers wat van hul tyd afgestaan het om op al dié terreine hul kinders te verryk. Indien van die buurskole ook so 'n program in die toekoms wil implementeer, kan hul met die skool skakel.
Lees 'n vorige artikel hier: Hatties hou tweede somerskool
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'