Gallery Update Video
ALBERTINIA NUUS EN VIDEO - Vir baie is 'n matriekafskeid vir enige matriekleerder 'n hoogtepunt van die jaar. Die Covid-19-regulasies het egter 'n stokkie voor verlede jaar se afskeidsfunksies gesteek.
Vanjaar kon leerders van Hoërskool Albertinia dié besonderse geleentheid bywoon, wat Vrydag, 15 Oktober plaasgevind het.
Geen ouers of toeskouers was toegelaat nie, maar dit het hulle nie daarvan weerhou om hulself op te tooi en met pragtige motors op te daag nie.
FOTOGALERY: Hoërskool Albertinia matriekafskeid 2021
Die uitvoerende burgemeester van Hessequa, Grant Riddles het die leerders met sy teenwoordigheid vereer. In sy toespraak het hy gesê dat hy nooit gedink het hy sou die burgemeester word nie.
"Ek het wel hard daarvoor gewerk en dit was 'n geleentheid wat oor my pad gekom het. Werk hard, sodat julle ook iewers in die lewe kan kom."Dennis Karelse, die skoolhoof het hulle ook aangemoedig om hard te werk.
"As jy hard werk, word jy beloon. Deure sal altyd daarbuite vir jou oopmaak. Dalk nie volgende jaar of die jaar daarna nie, maar wel in die toekoms, afhangende van hoe ernstig jy is om sukses te bereik. Wees dus positief en moenie gaan lê nie."
Die geleentheid is met 'n smaaklike ete en dans gevier, maar ook 'n unieke koppie met die skool se wapen en bybelversie, asook fotosessies om hulle aan hul skoolloopbaan - en die afsluiting daarvan - te herinner.
Karelse bedank al die borge wat die geleentheid moontlik gemaak het. "Ons waardeer elkeen wat so 'n kosbare aandeel het in ons skool. Baie dankie vir julle lojale en getroue ondersteuning."
VIDEO: Albertinia se matrieks neem afskeid
Die einde van 'n skoolloopbaan. Hoërskool Albertinia se matriekleerders het die geleentheid op gepaste wyse gevier.
VORIGE ARTIKEL: Albertinia-matrieks neem afskeid
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'