RIVERSDAL NUUS - Menseregtedag is Donderdag 21 Maart by die Thusong-sentrum deur DAWN (Demokratiese Alliansie Women Network), Hessequa gevier.
Vroue van oor die streek het bymekaargekom en die regte van vroue is met die tema 'No woman left behind' uitgelig.
Verskeie sprekers het die dames toegespreek, waarna elke vrou teenwoordig 'n verklaring onderteken het. Dit behels dat die vroue van Hessequa nie langer sal stilbly rakende ongeregtighede wat teen hulle gepleeg word nie, maar dit as een stem sal aanspreek en waar dit in hulle vermoë is, sal verander.
Die geleentheid is deur rdl. Margaret Jakobs geopen. Sy het genoem dat dit belangrik is dat vroue hulle regte ken en uitoefen. Adv. Leslie Morris van die departement van gemeenskaps-veiligheid het die dames toegespreek rakende kinderonderhoud en vertel hoe te werk gegaan moet word. "Maak 'n lys van die prys van klere vir die kind, kos, skoolklere en -gelde en mediese uitgawes, met ander woorde, hoeveel jy as ouer in 'n maand spandeer om vir die kind te sorg," het sy aanbeveel. Daardie bedrag moet sy deel van die onderhoudsbevel maak. Vroue het nie nodig om vir onderhoud te soebat as dit by die kind kom nie. Sy kan ook aansoek vir 'n beslagleggingsbevel op die man se salaris doen.
Connie Dalton het gesê dat 'n vrou se waarde bepaal word soos in Spreuke 31: "Dat dit ver bo korale is en dat God elkeen uniek gemaak het, met 'n spesifieke doel en plan op aarde."
Wes-Kaapse minister van gesondheid, dr. Nomafrench Mbombo het genoem dat dié dag sy oorsprong in 1960 in Sharpeville gekry het waar mense in opstand teen die Paswet gekom het. "Menseregtedag herinner jou aan jou regte en veral aan jou regte as vrou. Wanneer jy voel dat jou regte aangetas word, is daar verskeie instellings aan wie jy 'n geskrewe klagte kan rig."
Mbombo het veral klem gelê op die regte van siek persone en dat hulle met waardigheid behandel moet word.
Indien iemand by 'n kliniek of hospitaal nie goed behandel word nie, kan die persoon 'n 'Please call me' aan 079 769 1207 stuur en die persoon sal dadelik teruggeskakel word.
Nog 'n nommer om byderhand te hou, is die departement van sosiale ontwikkeling se 24-uur skakelsentrum by 0800 428 428.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'