Gallery Update
HESSEQUA NUUS - 'n Lammetjie wat verlede jaar op 15 Mei die lig gesien het, is deur sy ma weggegooi, blykbaar omdat hy baie swak en klein was.
Die Snyman-gesin het die lammetjie aangeneem en hom geleer om uit 'n bottel te drink. Sanette het hom Buks gedoop en sy slaapplek was in 'n boks langs haar bed, waar sy hom drie-uurliks voeding moes gee.
Aanvanklik het dit moeilik gegaan, maar mettertyd het Buks mooi gedrink. Hy het saam met drie honde op die werf grootgeword, maar het die skaaphond, Nala, as sy ma aangeneem en al haar maniere aangeleer.
Fotogalery: Buks die hanslammetjie
Wanneer die huismense dorp toe gegaan het, het Buks saam met die ander honde by die hek vir sy mense gewag om huis toe te kom. Met hul terugkeer het hy ook saam langs die motor gehardloop en hard geblêr om sy blydskap te wys dat hulle tuis is.
Buks by sy aanneem-ma, Nala.
In die oggende het hy saam met Sanette op die grondpad gaan stap en nie eenkeer afgedwaal of wegbeweeg nie. Sy geliefde ritueel was om in die huis te glip wanneer die voordeur oopgaan en dan in elke vertrek 'n draai te maak.
Weens persoonlike omstandighede moes die gesin dorp toe trek en Buks moes met 'n trop skape herenig word. Dit was moeilik en hy het weggeraak. Almal het na hom gesoek, maar die plaas was groot en is hy eers twee dae later deur inwoners van 'n buurplaas gevind. Volgens hulle moes Buks oor die N2 geloop het om by hulle uit te kom; 'n wonderwerk dat hy nie raakgery of gesteel is nie.
Sanette besoek Buks gereeld en wanneer sy uit die motor klim, kom Buks uit die trop met 'n stywe drafstap reguit na haar toe. Hy is baie lief vir karamel springmielies en word hy met elke besoek daarmee bederf. Edward, die plaasvoorman het vir sy vrou vertel dat hy nog nie 'n skaap gesien het wat al meer as 'n jaar in die veld bly, 'n mens so kan onthou nie - en hy boer al vir jare met skape.
Na elke besoek neem die twee swaar afskeid en as Buks na sy trop terug loop, draai hy altyd halfpad om asof hy wil sê: "Moenie bekommerd wees nie, ek is oraait."
Sanette sê as sy nou op 'n plaas kan gaan bly, sal sy dadelik vir Buks gaan haal.
Moet ek regtig teruggaan na die trop toe?
Vorige artikel: Buks, die geliefde hanslam
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'