RIVERSDAL NUUS - Hanko Geldenhuys van Riversdal is besig om vir hom naam by die Drakensberg Seunskool koor te maak.
Hierdie prestigeryke skool is in 1967 gestig deur 'n gesin wie se seun se ambisie was om 'n skool soortgelyk aan die Weense Seunskoor in die Drakensberg te vestig.
Dit huisves seuns in die ouderdomsgroep 10 tot 15 jaar, met ander woorde graad 4 tot 9. Dis uniek in die opsig dat dit 'n kosskool is met 'n kurrikulum wat musiek en die akademie kombineer vir 'n holistiese opvoedingsprogram.
Dis 'n klein skool met slegs 120 leerders, maar die lys van alumni is nimmereindigende suksesverhale. Daar is byvoorbeeld die Bala-broers en ook Ralf Schmitt wat aan die stuur van die Ndlovu Jeugkoor staan.
Sedert Hanko op 30 Januarie verlede jaar die skool se klok gelui het om sy avontuur op die tradisionele Drakie-manier af te skop, was dit omtrent die rit van 'n leeftyd, gevul met vele hoogtepunte.
Een daarvan het hom amper 'n rekord laat breek deur die new boy te word wat die tweede vinnigste in die 56 jaar van die skool se bestaan sy konsertkoorstatus bereik.
In hierdie jaar het hy ook gereeld sy verskyning in die skool se weeklikse nuusbrief gemaak, waar hy aangewys is as Best Viber of Commendable Performance met hul tweeweeklikse konserte.
Hy blink ook uit op akademiese terrein en was derde in sy klas na sy eerste kwartaal by die skool.
Hy kry darem ook tyd vir sport en sy bergfiets moet dit ontgeld as hy 'n blaaskans vat.
In sy derde kwartaal het hy 'n verskyning gemaak in 'n Tik Tok-video van die skool.
Sy stem is ook gebruik met 'n opname vir Oranje FM, waarin die skool bemark word en hy het 'n kleurvolle verskyning in 'n stukkie van Gerrie Pretorius se Leef jou Reis-program op kykNET gemaak.
In 2022 is Hanko net so bedrywig, ook op geestelike vlak. Hy het begin met 'n bybelstudiegroepie by die junior koshuis waar hy op die huiskomitee is.
Hy is die praise & worship-leier van die skool en hy het 'n sterk orkes saamgestel wat die aanbidding Sondagaande lei by die skool se kapeldienste.
Hy was baie bevoorreg om gekies te word om saam met 'n klein groep van die seuns Durban toe te gaan en 'n nuwe musiekvideo saam met die Sharks-rugbyspan op te neem op 15 Februarie.
Die video word tans op Supersport uitgesaai en is baie gewild op YouTube.
Om alles te kroon toer die Drakensberg Seunskoor Kaap toe en Hanko het die voorreg om in sy tuisdorp, Riversdal, sowel as Stilbaai op te tree op 2 en 3 April.
Die koor beplan ook verrassingsbesoeke by ouetehuise in die omgewing.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'