RIVERSDAL NUUS - Gerda Antha kon as gevolg van bloeding op die brein nie meer praat nie, maar dit het haar nie laat moed opgee nie.
Sy is 'n oudonderwyser van Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool waar sy Afrikaans en kuns en kultuur aangebied het. Hoewel sy na haar terugslag weer vir 'n kwartaal gaan skoolgee het, was haar spraak en konsentrasie nog te swak. Sy het gereeld hoofpyne gekry en dokters het vermoed dat dit net sinusontsteking is.
"Ek het een aand in 2004 met 'n gesuis in my kop wakker geword. Ek was van balans af en aan die linkerkant verlam. Almal het dadelik gesê dit is beroerte. Hulle het my gestabiliseer en na Groote Schuur-hospitaal geneem. Die dokter het my toe met bloeding op die brein gediagnoseer en dit is gedreineer. Dit is blykbaar generies, iets wat al jare in ons familie is. Dit gebeur net," het Antha vertel.
Na haar operasie het sy gedink sy praat reg. "Vir my het dit geklink en gevoel asof ek reg praat. Ek sou my woorde omruil en snaakse dinge kwytraak. Dit is toe dat ek besef het my spraak is aangetas."
Omdat sy medies ongeskik verklaar is, moes sy noodgedwonge ophou werk. Sy kon nie meer alles doen soos voorheen nie en was afhanklik van ander.
"Ek het baie depro geraak en nie geweet watter kant toe nie. Iemand het my toe van Goukam Health vertel, waar ek gaan aanklop en goed aangesterk het. Ek het eers met klein takies begin, soos om toue uit te trek wat my hande sterk gemaak het. Hier oordeel niemand jou nie, al sukkel jy hoe. Om te sien hoe ander mense jou motiveer en in jou glo, maak jou sterk."
Dr. Allison Madden, kliniese sielkundige het die potensiaal in Gerda raakgesien en gereël dat sy klas vir intellektueel gestremdes aanbied.
"Om die verskil wat ek maak in dié kinders te sien, is wonderlik. Van hulle het nie eens gepraat nie en nou kan hulle al self vir my verduidelik wat hulle wil hê. Ek geniet dit baie."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'