Update
RIVERSDAL NUUS - Molenrivier Primêr, 'n landelike skool net buite Riversdal wat 68 leerders van omliggende plase bedien, het Dinsdag 28 Junie ses splinternuwe fietse ontvang wat vir opleiding by die skool se junior verkeersopleidingsentrum ingespan gaan word.
Die skenking is 'n inisiatief van Cape Country Unplugged met die ondersteuning van Pedal Power se Bicycle Empowerment Network (BEN) en Bike4all.
Dié projek, gemik op algemene laerskole in Hessequa, het ten doel om die belangrikheid van padveiligheid en verkeersreëls in laerskoolleerders vas te lê.
Verskeie plaaslike organisasies, soos die ACVV en Hessequa-munisipaliteit se verkeersdepartement is ten nouste by die projek betrokke.
Die junior verkeersopleidingsentrum gaan binnekort by die skool aangelê word met die hulp van die verkeersdepartement. Geplaveide paaie met verkeerstekens, soos in 'n werklike straattoneel, gaan nagemaak word waarop die leerders dan kan oefen en leer hoe om veilig met hul fietse te ry.
'n Soortgelyke verkeersopleiding-sentrum is sowat drie jaar gelede by Laerskool Volschenk aangelê. Cape Country Unplugged het 12 van die helderkleurige fietse aan die skool geskenk.
Cynrol Saayman, hoof van Molenrivier Primêr, het by die oorhandiging van die ses fietse gesê sy blydskap ken geen perke nie. "Ons is werklik geseënd. Ons het onlangs 'n lees- en wiskundeprojek by die skool aangebied en dis ongelooflik wat dit vir die kinders beteken het.
Nou met dié skenking gaan ons 'n nuwe selfvertroue by die leerders aankweek en hulle vertroud maak met padveiligheid en hoe om padverkeersreëls te gehoorsaam. Met die opleidingsentrum sal ons dissipline by hulle kan indril."
Hy het aan Albert de Bruinj, eienaar van Cape Country Unplugged, gesê hy het nie eintlik genoeg woorde om hom te bedank nie. "Ek kan maar net weer eens sê: 'baie dankie'."
Cape Country Unplugged het Dinsdag ses helderkleurige fietse aan Molenrivier Primêr oorhandig. By die oorhanding was van links: Albert de Bruijn (eienaar van Cape Country Unplugged), Marianna Louwrens, Sonja Fourie, Cynrol Saayman, Irena Kannemeyer (Molenrivier Primêr), Livvy Paulsen (plaaslike ACVV), Morné Dyason (verkeerveiligheidskoördineerder: Hessequa-munisipaliteit) en Harry Stroebel (GPF-voorsitter).
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'