HESSEQUA NUUS - Na aanleiding van 'n persverklaring deur die Wes-Kaapse minister van opvoeding, Debbie Schäfer, het Suid-Kaap Forum die verskillende polisiestasies in die streek gekontak om uit te vind wat die stand van sake in die streek se skole oor die probleem van dwelms is.
Riversdal-polisie
Gereelde visentering word op 'n weeklikse basis by skole gedoen. By die skole waar visentering gedoen is, is nog geen dwelms gevind nie.
Hoewel op hoërskole gekonsentreer is, sal in die toekoms ook by laerskole visenterings gedoen word. (Lt.kol. Delicia Isaacs)
Albertinia-polisie
Dwelmsake is al aangemeld waarby leerders van ons skole betrokke was.
Dwelms in en om ons skole word gemonitor en skole gaan gedurende die jaar deursoek word.
Die skole word nie as geheel deursoek nie omdat hier klein kinders in die skool is, maar klasse word sporadies deursoek.
Ons het twee skole in ons gebied; 'n gekombineerde skool en 'n laerskool. Wanneer skole deursoek word, word klasse geïdentifiseer en deursoek.
Dwelmmisbruik word 'n probleem onder leerders.
Ons is tans besig om bewusmakingsprogramme aan mekaar te stel om leerders, sowel as onderwysers die kennis te gee om hulle te weerhou van dwelmmisbruik. (Sers. Ciska Badenhorst)
Stilbaai-polisie
Ons is gelukkig in die opsig dat ons slegs twee laerskole hier het, een op Stilbaai en een op Melkhoutfontein.
Ons deursoek skole slegs op die hoof se versoek en het tot op datum nog geen dwelms gevind nie. (Kapt. Johan van Tonder)
Heidelberg
Skole nader ons self indien 'n vermoede van dwelmmisbruik bestaan en dan tree ons op. Vanjaar het ons 'n gevaarlike wapen-visentering op versoek by 'n plaaslike skool gedoen en 'n mes gevind.
Ons doen ook gereeld patrollies by skole. (Lt.kol. Jeremy Lewak)
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'