MELKHOUTFONTEIN NUUS - Eloise Noemdoe van Melkhoutfontein het in 1995 aan Gerrit du Plessis Senior Sekondêre Skool matrikuleer. Sy het reeds op skool geweet sy wil 'n verpleegster word.
In 1996 begin sy verpleegkunde aan die destydse Otto du Plessis verpleegkollege studeer. Sy word aangestel as geregistreerde verpleegkundige in die jaar 2000 by Tygerberg-hosipaal en is reeds die afgelope 21 daar in diens.
Eloise is sedert Maart verlede jaar in die Covid-19-waakeenheid werksaam, waar sy en haar span verpleegkundiges daagliks hard werk om mense se lewens te red.
Hoe ervaar jy dit om in die Covid-19-waakeenheid te werk?
Ek moet erken hierdie pasiënte is baie meer uitputtend en veeleisend as die gewone mediese pasiënte. Dit is ook baie emosioneel, omdat baie van die pasiënte sterf, ongeag al die harde werk en aandag wat jy aan jou pasiënt gegee het.
Die feit dat hierdie pasiënte sonder die ondersteuning van hul familie of vriende moet klaarkom, veral wanneer hulle op hul sterfbed is, maak dit soveel meer hartseer.
Dit was vir my 'n groot kopseer dat ek 'n gevaar vir my familie is omdat ek met Covid-19-pasiënte werk, want mens kan nogal heeltemal obsessief daaroor raak.
Hoe bly jy staande?
Aan die begin was ons maar almal bevrees en angstig oor dié vreemde siekte, veral met die aanhoor dat ons eenheid gekies is om die Covid-19 ICU te wees. Maar ek is soms sprakeloos,want die Here is altyd getrou. Psalms 91 en 23 was my daaglikse brood. Elke dag het gevoel asof jy na 'n oorlogsone gaan en daarom moes ek altyd my volle wapenuitrusting aantrek. Die bloed van Jesus het my tot dusver beskerm. Ek pleit dit ook oor my as ek my pasiënte se kamers binnegaan.
Aan die anderkant dank ek my familie en vriende wat my elke dag ondersteun. Al die eer gaan aan die Here omdat ek nie die virus opgedoen het nie.
Wat is jou boodskap aan die gemeenskap?
Die lewe is baie kort. Leef voluit en maak die beste van elke oomblik. Die wêreld het verander en die "nuwe normaal" is nie altyd maklik nie. Baie mense is in moeilike omstandighede gedompel. Baie families word vernietig as gevolg van verlies van inkomste. Laat God toe om jou rots in hierdie moeilike tye te wees. Groot asseblief, volg die voorgeskrewe protokol van sosiale afstand, dra van 'n masker en om gereeld jou hande te saniteer. Oorweeg die keuse om teen die virus ingeënt te word wanneer jy die geleentheid daarvoor kry. Ignoreer al die vals nuus wat daaroor versprei word en doen jou klein deeltjie. God sal vir jou sorg.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'