Gallery Update
STILBAAI NUUS - Die polisie ondersoek 'n saak van bestuur onder die invloed van alkohol na 'n 46-jarige vrou in die Fynbos-sentrum se parkeerterrein teen verskeie voertuie gebots het.
Die voorval het Donderdag 2 Mei omstreeks 14:00 plaasgevind. Die voertuig het teen drie ander voertuie gebots en uiteindelik teen 'n boom in die parkeerterrein tot stilstand gekom.
Op Suid-Kaap Forum se navraag Donderdagmiddag, het kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder, gesê dat die vrou vir bestuur onder die invloed van alkohol aangekla is. Daar is kortliks op die koerant se Facebook-blad daaroor berig, wat hewige reaksie ontketen het.
Die vrou, wie se naam nie in die beriggie genoem is nie, het haarself geïdentifiseer deur heftig te ontken dat sy onder die invloed was. Haar inskrywing het soos volg gelui: "Aan almal ek was nie dronk nie en is alkohol vry verklaar my kar brieke het mee gegee en ekt geen beheer oor die kar gehad nie eks verskriklik oor alles maar alles was buite my beheer my dogter was saam in die kar sy sal ook alles bevestig."
Na aanleiding hiervan, het Van Tonder opnuut bevestig dat hy die korrekte inligting verskaf het en dit is so op die koerant se Facebook-blad weergegee. Dit het verdere kommentare ontlok, waaronder negatiewe, maar ook positiewe kommentaar.
Een persoon het gemeld dat die stasiebevelvoerder nie valse inligting sal verskaf nie. "Daar is sekerlik getoets of die dame alkohol ingeneem het voor enige inligting deur gegee kan word. Ek persoonlik dink nie Kapt van Tonder sal homself in 'n situasie plaas wat die SAP in 'n slegte lig sal plaas nie.
"Die SAP van Stilbaai is die beste in die land..."
Ao. Morné D'Emiljo, plaaslike polisiewoordvoerder het in 'n amptelike verklaring op Maandag 6 Mei gesê: "Stilbaai-polisie ondersoek 'n kriminele klag van bestuur onder die invloed van alkohol nadat die bestuurder van 'n silwerkleurige Ford teen verskeie voertuie in die parkeerterrein van 'n plaaslike supermark in Hoofstraat in Stilbaai-Wes gebots het."
Die 46-jarige bestuurder sal op 13 Desember vanjaar in die rondgaande hof op Stilbaai verskyn. Volgens D'Emiljo duur die ondersoek voort.
Die derde voertuig wat getref is het langs die bestuurder se voertuig by die bome op die parkeerterrein tot stilstand gekom.
Die bakkie het ook in die slag gebly. Foto's: Deona Aucamp, korrespondent
Lees 'n vorige artikel hier: Vrou vas na kettingbotsing
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'