Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Die troosdiens van Heila Kilian (63) wat Maandag 16 April tydens 'n rooftog doodgeskiet is, vind Woensdag 25 April om 10:00 by die AGS Lofoord, Springs plaas.
Heila laat haar eggenoot Hein Kilian, oudbevelvoerder van die onluste-eenheid op Springs, drie seuns en 'n dogter - Eugene (45) wat in Australië woon, Anton (44), Marika van der Linde (43), Zane (37) en sewe kleinkinders agter. Hein het in 'n boodskap op Facebook Messenger aan Suid-Kaap Forum gesê dat hy sy hele polisieloopbaan geveg het om van die land 'n beter plek te maak.
"En nou moes my vrou op so gewelddadige en sinnelose manier sterf. Ons was sielsgenote en beste maatjies. Sy was my alles."
In 'n telefoniese onderhoud met die koerant het Marika genoem dat die polisie aanvanklik aan hulle gesê het dat hul ma in die kop geskiet is. "Die lykskouer het egter vir ons gesê dat die koeël deur haar long en hart is en dat sy onmiddellik dood was, wat vir ons 'n groot vertroosting is dat sy nie gely het nie."
Heila het by haar suster en swaer, Brenda en David Thomas op hul plaas gekuier ten tye van die voorval en sou die volgende dag na Springs terugkeer. "Tannie Brenda het langs haar gesit toe sy geskiet is en het ook vir ons gesê dat dit oombliklik verby was. Sy het langs my ma neergeval en gemaak of sy ook dood is."
Die drie stuks, asook Shaun Vorster wat in een van die twee woonstelle op die plaas bly, het die aand buite gebraai en na Christelike musiek geluister toe hulle oorval is.
"Shaun het links gedraai om die gaar vleis na binne te neem toe hy die mans, wat by die kant van die berg opgekom het, sien. Hulle het nader gehardloop en 'n skoot het afgegaan, wat my ma getref het. Hulle het vir David oorval, geslaan en heeltyd gesê hulle soek geld. Van hulle het Afrikaans gepraat en ander Engels. Hulle het vir Shaun ook teen sy kop geslaan en vasgemaak en gevra waar is die kluis."
Volgens Marika het Brenda slap op die grond bly lê en gebid. Een van die mans het in Engels geskree dat sy moet wakker word, haar aan haar voete gesleep en in die gesig geklap. Hy het aangehou om haar te klap en sy het haar oë oopgemaak.
Die twee susters in 'n uitbundige oomblik - min het hulle geweet van die tragedie wat voorlê.
"Tannie Brenda het hom gevra om in haar oë te kyk en vir hom gesê dat sy hom nie vrees nie, dat sy net vir God vrees en het 'n Christelike liedjie 'God will make a way' begin sing. Dit was asof hy sy greep op haar verslap het en sy het aangehou sing."
Die man het haar met die elektriese koord, wat hulle gebruik het vir die musiek, vasgemaak.
David se hande en voete was met toue vasgebind, waarna hulle sy hande aan sy voete ook vasgemaak en heeltyd sy kop teen die muur gekap en geld geëis het. Toe Shaun hulle na die kluis neem waar hulle die geld en sy wapenversameling gebuit het, het die koorde om Brenda se arms wonderbaarlik losgekom.
"Wat nogal eienaardig was, is dat die mans blykbaar nie presies geweet het wat om met die jaggewere met teleskope te doen nie. Hulle het die wapens gebruik om die goed in die huis stukkend te slaan en met hul aandag verdeel, het tannie Brenda weggehardloop.
"Sy was omtrent 20 meter ver toe drie van hulle haar agternasit. Dit was baie bebos en hulle het haar ingehaal en gewurg en sy het weer begin sing. Die volgende oomblik het sy van die steilte afgegly en tussen bosse beland waar hul haar nie kon sien nie."
Die mans het eindelik besluit om tou op te gooi en die soektog na haar te staak. Sy het bly lê tot dit stil was, maar in die stikdonker kon sy selfs nie haar hande sien nie.
Sy het voel-voel gekruip tot by 'n doringdraadheining, tot haar verbasing op 'n gat daarin afgekom en deurgekruip. "Iemand moes alarm gemaak het of die skoot gehoor het, want in daardie stadium het sy 'n polisiesirene gehoor.
Shaun het na haar geroep, maar sy wou nie dadelik antwoord nie omdat sy bang was dat die mans hom dalk gedwing het om na haar te roep."
Toe hy bly roep het sy geantwoord en die bure het agter die klank van haar stem met hul bakkie aangery, wat haar laat besef het sy is eintlik teen die pad en redding is naby.
Marika het besluit om die hele gebeure te vertel sodat mense kan besef dat hulle nie eens op 'n plek soos Stilbaai heeltemal veilig is nie. "Nie om in vrees te leef nie, maar om bietjie meer te doen om jou veiligheid te verseker."
Kyk 'n video hieronder wat net voor die skietvoorval geneem is.
Lees vorige artikels:
- Stilbaai-Plaasmoord: 4 verdagtes vas
- Opvolg: Vrou sterf in plaasaanval
- Plaasaanval: Gerugte van arrestasies onwaar
- Opvolg: Vrou sterf tydens plaasaanval
- Plaasaanval buite Stilbaai: 1 dood
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'