GOURITSMOND NUUS - Die Gourits-sambreel verwelkom die voorgestelde vestiging van 'n perlemoenfabriek in Hessequa, dog staan daarop dat dit nie in die Gourits-gebied moet wees nie.
'n Afvaardiging van vyf lede van die Gourits-sambreel het verlede week die uitvoerende burgemeester van die distriksmunisipaliteit, Memory Booysen en amptenare in George ontmoet en hierdie boodskap aan hulle oorgedra.
Die sambreelligaam verteenwoordig die Gouritsmond-belangeforum, die Bitouville-gemeenskapsvereniging, die Gouritzrivier-bewaringstrust en die Gouritsmond boot- en hengelvereniging. Gouriqua-bewarea ondersteun die standpunt van die Gourits-sambreel.
Org Nieuwoudt, voorsitter van die Gourits-sambreel, sê: "'n Perlemoenfabriek wat 'n groot aantal mense in diens sal moet neem, is absoluut wenslik vir werkskepping. Dit moet egter binne Hessequa se goedgekeurde grondgebruikpatrone wees. Hessequa se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) wys Stilbaai aan vir nywerheidsontwikkeling en dus is Stilbaai die aangewese kusplek. Boonop verklaar die distriksmunisipaliteit se oorhoofse GOP Stilbaai tot 'n ekonomiese groeipunt aan die kus."
'n Moontlike ligging vir 'n perlemoenaanleg kan langs die bestaande Stilbaai-hawe, wat juis volgens plan uitgebrei en gemoderniseer gaan word wees.
Die munisipale en toerisme-dokumente beskryf Gouritsmond as 'n rustige kuslangse vakansiedorp, terwyl die kuslyn jare gelede al as natuurgebied geoormerk is en as 'n kritieke biodiversiteitsgebied gelys is.
Volgens voorstelle word beoog om die perlemoenfabriek direk langs die jarelange Gourikwa-natuurreservaat en op 'n ondergeskikte pad wat hoegenaamd nie vir nywerheidsverkeer geskik is nie op te rig.
Nieuwoudt sê geen van die goedgekeurde beplanningsraamwerke van die plaaslike óf die distriksmunisipaliteit maak voorsiening vir so 'n nywerheid aan hierdie grootliks ongerepte kus nie.
Aan die ander kant is Stilbaai 'n aangewese plek met infrastruktuur, 'n opgeknapte toegangspad, riolering wat opgegradeer word en 'n nabye werksmag op Melkhoutfontein en Riversdal.
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'