Update
RIVERSDAL NUUS - Die 74-jarige vrou wat op Sondag, 22 Januarie in haar huis in Riversdal verkrag is, het na bewering gemaak of sy dood is nadat die verdagte haar gewurg het.
Dit het waarskynlik daartoe gelei dat sy nie verder aangerand is nie.
Die slagoffer was besig om te kyk na 'n kerkdiens op haar televisie toe sy 'n paar skoene voor haar sifdeur sien.
Sy het na wat verneem word die hek oopgesluit om ondersoek in te stel toe die 19-jarige verdagte, wat aan haar bekend is, haar oorrompel het. Die voorval het om ongeveer 09:40 gebeur.
Die slagoffer is gewurg en verkrag en die verdagte het sy tyd geneem om die huis te deursoek voordat hy op die vlug geslaan het.
Hy is die volgende dag, op Maandag, 23 Januarie in Riversdal in hegtenis geneem en het Woensdag, 25 Januarie in die Riversdal-landdroshof verskyn op 'n aanklag van verkragting, poging tot moord en huisroof. Hy bly in aanhouding en die saak is uitgestel tot 1 Februarie.
Die slagoffer is teen die ter perse gaan steeds in 'n hospitaal in Riversdal vir haar beserings behandel.
Die saak word ondersoek deur ao Soretha van Zyl van die Mosselbaai-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe. Die polisie versoek die publiek om die familie se privaatheid te respekteer.
Vorige artikel:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Tuinroete nuus'